MOSSELBAAI SPORTNUUS - Faunty en Janene Gillmer (Gillroy Hokke) het die afgelope naweek behoorlik amok in die Mosselbaai-posduifklub gemaak toe hulle die eerste én tweede plekke in beide die Ope 1- en 2-wedvlugte vanaf Vryburg (844km) geklok het.
Dìt wil beslis gedoen wees veral as in ag geneem word dat slegs sewe van die 98 duiwe in die Ope 1- en slegs vyf van die 98 duiwe in die Ope 2-wedvlug, op die dag van loslating terug was in hulle hokke.
Die duiwe is Vrydagoggend, 7 Oktober om 06:10 in Vryburg losgelaat. Die Gillmers klok hul eerste duif Vrydagaand om 18:20 (12 uur 10 minute later). Hulle volgende duiwe arriveer op die dag om 18:32, 18:42 en 18:43. Hulle spog met nog 'n duif op die dag terug wat om 18:59 gearriveer het.
Fanie Mollentze, Danie Barnard en Casper le Grange is die ander duiweboere van die Mosselbaai-klub wat ook op die dag duiwe terug gehad het.
Fanie se duiwe wen vir hom die derde en vierde plekke in beide die Ope 1- en Ope 2-wedvlugte in, Casper behaal 'n vyfde plek in die Ope 1 en Danie se duiwe neem die sesde (Ope 1) asook die vyfde (Ope 2) plekke in.
Juniors
In die junior-afdeling spog die jong Zante Strydom ook met 'n duif op die dag terug. Hy klok sy duif Vrydagaand om 19:14.
Hy is die enigste junior om duiwe in beide die wedvlugte terug te hê.
Beslis ook 'n prestasie om op trots te wees.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'