EDEN DISTRIK SPORT-NUUS - Eden-sportraad behou die naam Eden. Die distriksmunisipaliteit se besluit om sy naam van Eden-distriksraad na Garden Route distriksraad te verander sal vir eers geen invloed op die Eden-sportraad se konsessienaam hê nie.
Desmond Speelman, voorsitter van die Eden-sportraad, wat uit 51 sportfederasies bestaan het tydens Woensdag, 29 September se afrigterskonferensie sterk stanpunt ingeneem en genotuleer dat die sportraad sy naam behou.
In 'n onderhoud met die Mossel Bay Advertiser het Speelman gesê, "Ons kan nie ons naam verander nie. Die distriksmunisipaliteit het sy naam verander om bemarkingsredes. Die proses om die naam SWD-sportraad na Eden-sportraad te verander, is nog nie eers afgehandel nie.
Dit het sportfederasies derduisende rande uit die sak gejaag en hulle kan nie bekostig om nou weer 'n naamsverandering te ondergaan nie."
Speelman het bygevoeg dat die Eden-sportraad nié voorskriftelik wil wees en federasies dwing om naamsveranderinge te ondergaan nie.
"Die provinsiale federasies kry hul voorskrifte van die nasionale federasies."
"Ons bly die Eden-sportraad tot iemand druk op ons plaas," het Speelman bevestig.
Die naam Eden in sportkringe sal op Donderdag, 25 Oktober tydens 'n ledevergadering in George op die agenda vir bespreking wees.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'