EDEN DISTRIK NUUS - Eden-lewensredding is een van Eden se 36 sportfederasies wat die afgelope naweek 'n tjek van die Wes-Kaapse departement van kultuur en sport (DKES) ontvang het.
Tydens dié tjekoorhandigingseremonie wat op 17 April in Riversdal plaasgevind het, het minister, Anroux Marais, 'n tjek van R2 095 000 aan die sportfederasies vir administrasie, transformasie, ontwikkeling, kapasiteitsontwikkeling en die aanbied van byeenkomste oorhandig. Die seremonie is in vennootskap met die Hessequa-munisipaliteit aangebied.
Dit is die grootste bedrag wat ooit vir sportontwikkeling in die Eden-distrik ontvang is.
Volgens Dave van der Walt, sekretaris van die Eden-sportraad, het hulle 'n puik getuigskrif tydens die seremonie ontvang.
"Die Eden-sportraad word as die bes-georganiseerde en operasionele distrik sportraad in die Wes-Kaap beskou en spog met 'n 98% nakoming van verpligtinge, 100% teenwoordigheid van federasies by die tri-laterale aanbiedings en die tjekoorhandigingseremonie," het hy gesê.
In Marais se toespraak het sy dit duidelik gestel dat DKES verbind is om geleenthede vir die jeug te skep asook die rekonsiliasie en ontwikkeling van die Wes-Kaapse gemeenskap deur die voorsiening van gelyke toegang tot en bekostigbare sportfasiliteite, programme en dienste.
Van der Walt het verder gesê ses distrikssportrade in die Wes-Kaap en 131 sportfederasies word met R5,4 miljoen befonds waarvan R260 000 aan transformasieprojekte toegeken word en R400 000 begroot word om administrateurs en sportpersone van geaffilieerde lede by te staan om aan internasionale byeenkomste te kan deelneem.
"Die hoofdirekteur van sport in die Wes-Kaap, dr Lyndon Bouah, het begunstigdes van die toekennings egter gewaarsku dat die fondse ekonomies gebruik moet word en dat gereelde terugrapportering deel van die ooreenkomste is."
Desmond Speelman, voorsitter van Eden-sportraad, het die minister bedank vir hul vertroue in die Eden-sportraad met die befondsing en het ook die Eden-kantoor van DKES bedank vir die goeie reëlings van die seremonie.
Hy bedank ook burgemeester van die Hessequa-munisipaliteit, Grant Riddles, vir hul optrede as gasheer vir die geleentheid.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'