SUID-KAAP SPORT NUUS - Die Eden o/19-netbalspan, verteenwoordigend van spelers van verskillende dorpe in die Suid-Kaap het onlangs in Kuilsrivier in Kaapstad aan die nasionale kampioenskappe deelgeneem.
Hulle het teen van die land se beste deelnemers meegeding en het goud verower om as wenners huiswaarts te keer.
Nadia Julies, trotse afrigter van hierdie energieke span sê die deurslag tot die week se goeie resultate is eenheid, spanwerk en 'n wil om vir mekaar te speel.
"Eden het met die minste spelers in die toernooi opgedaag en was soms as die underdogs gereken, maar die span het aan almal hul durf en deursettingsvermoë bewys en kan spog met hul goue medalje in die B-afdeling van die kompetisie. Ons slagspreuk was, 'Eden great - Go for gold' en dit was duidelik nie net praatjies nie, maar is in daad omskep."
Vir beide die spelers en afrigter was die kampioenskap 'n leerervaring.
"Hierdie span was nie gewoond aan só baie netbal opeenvolgend nie en ook nie om teen verskillende spelstyle mee te ding nie. Dit was 'n uitsonderlike ervaring en die groei in die hele span was opmerklik."
Die Eden o/19-netbalspan het onlangs aan die nasionale kampioenskappe deelgeneem en het goud verower om as wenners huiswaarts te keer.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'