MOSSELBAAI SPORT NUUS - Jukskeispelers van die Hartenbos-jukskeiklub onder leiding van Bossie Boshoff het die behoefte openbaar om 'n driedag toernooi op die Hartenbos-jukskeiterrein aan te bied.
Dit sal die eerste poging van hierdie aard wees in die bestaan van die klub.
Juis om die rede het vele spelers langtand aan die idee gekou veral vanweë die omvang van so 'n toernooi. Die oorbruging van besware en tussentydse negatiwiteit is uit die weg geruim met die toetrede van Hendry Gerby, president van Eden jukskei distrik. Die bul is by die horings gepak en 'n bestuursvergadering is belê.
Na deeglike bespreking van die aard van die beoogde toernooi is finaal besluit dat dit wel vanjaar op 8, 9 en 10 Augustus op Hartenbos sal plaasvind. Nog skaars was die besluit rugbaar of spanne van die OP, WP, Kaapse Wynlande, Noord-Kaap en Gauteng het belangstelling getoon. Benewens voormelde distrikte heers daar eensklaps groot belangstelling en opgewondenheid by plaaslike klubs waaronder George, Mosselbaai en Riversdal sowel as by die sosiale klubs in die Eden Distrik. Onder die sosiale klubs sorteer die volgende: Danabaai, Groot-Brakrivier, Boggomsbaai, Gouritzmond, Stilbaai en Jongensfontein.
Die voorlopige geskeduleerde program sal soos volg verloop. Donderdag, 8 Augustus word hoofsaaklik geoormerk vir inskrywings deur sosiale klubs. Ander besoekende spanne en spelers sal ook in die program ingepas word.
Op Vrydag, 9 Augustus sal besoekende spanne van elders asook plaaslike spanne in driespel- en vierspelwedstryde kan deelneem. Daar word ook beplan om die Vrydagaand onder spreiligte 'n aantal wedstryde te speel. Die wedstryde sal tot ongeveer 22:00 die aand duur. Daar sal kosstalletjies beskikbaar wees. Die opening sal soggens om 08:00 wees en wedstryde sal om 08:30 begin. Musiek sal ook gedurende die dag gespeel word.
Enige navrae kan gerig word aan Hendry Gerber (073 703 4311), Bossie Boshoff (076 317 9017) of Sydney Stopforth (082 371 3637).
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'