MOSSELBAAI SPORTNUUS - Die Danabaai Jukskeiklub het oor die afgelope naweek hul 10de bestaansjaar gevier.
Met 38 huidige lede, wat aktief by die klub betrokke is, en 'n groot belangstelling in die sport, gaan die geskiedenis van die klub terug na 17 Julie 2013, toe die eerste vergadering ter stigting van die Danabaai Jukskeiklub plaasgevind het.
By die vieringe op Saterdag, 25 November, was daar verteenwoordigers van al die klubs in die omgewing, en was dit 'n baie suksesvolle en gesellige dag. Johan Joubert en Febe Streicher was verantwoordelik vir die organisering van die dag. Gaste wat teenwoordig was, sluit in die burgemeester, raadsheer Dirk Kotzé, raadsdame Marie de Klerk, raadslid Anton Dellemijn, en verskeie ander gaste.
Een van die prominente figure in die klub is Elna van den Berg, wat reeds vir jare die vroue Springbok-kaptein van hierdie sport is.
Kotzé het self 'n skei of twee gegooi. In sy toespraak het Kotzé die geskiedenis van jukskei kortliks oorgedra.
"Jukskeie is afkomstig van die ossewa wat tydens die Groot Trek gebruik is. Die penne (speekskei) is afkomstig van die ossewa-wiel. Die oorspronklike skei is getrek uit die juk wat oor die osse gehang het," vertel Kotzé.
"Tog het die spel 'n interessante geskiedenis wat nagespeur kan word tot by 1734 by die Fort de Rietvallei aan die Buffeljagtsrivier, toe die Dragonders (militêre perderuiters gedurende die 17de tot 19de eeu) vir tydverdryf houtstompe na 'n voorwerp in die grond gegooi het." "Die eerste amptelike wedstryd in Suid-Afrika het op 4 November 1939 op 'n plaas in die Boland by Klein Drakenstein tussen laasgenoemde en die KWV plaasgevind. Op 25 November 1939 het die eerste bekerwedstryd tussen agt laers plaasgevind," vertel Kotzé.
Die eerste provinsiale wedstryd is op, 3 Maart 1940, gespeel tussen die Oos-Kaap en die Vrystaat.
Volgens Wikipedia is Jukskei 'n inheemse Suid-Afrikaanse spansport wat deur mans, vroue, en kinders gespeel word. Die spel is 'n somersport en word deur twee spanne van vier spelers elk met twee rubber- of houtskeie gespeel wat tussen 11m en 16m na 'n houtpen in 'n sandput gegooi word. Sedert die ontstaan van jukskei het dit ontwikkel tot 'n sport wat 'n hoë mate van kundigheid en vaardigheid van die speler vereis. Die spel word vandag ook in Namibië, Zimbabwe, en Amerika gespeel.
In die dae toe die eerste wit setlaars Suid-Afrika ingetrek het, was hulle afhanklik van transportryers vir voorraad. Die transportryers het met hulle ossewaens van die Kaaplandse kus na die binneland gereis en op uitspanplekke op hulle transportroetes gestop sodat die diere kon wei en hulle kon ontspan na 'n lang tog. In hierdie tyd was soortgelyke speletjies soos kegelspel en ringgooi gewild in Suid-Afrika en Europa.
Daar word gespekuleer dat 'n vorm van jukskei reeds voor dié tyd aan die Kaap gespeel is en dat dit die transportryers was, wat jukskei in sy herkenbare basiese vorm geskep het. Om ledige ure te vul, het hulle die skeie uit die juk getrek en na hul teiken gegooi, gewoonlik die langkopskei (ook genoem die "pen") wat in die grond geplant is. Die afstand tussen die pen en die gooi posisie is afgetree. Punte kon slegs behaal word deur die omgooi van 'n pen.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’