EDEN-DISTRIK NUUS - Die Eden-sportraad het sterk standpunt ingeneem teen die gebruik van dagga deur sy lede.
Dit volg na adjunkhoofregter Raymond Zondo op Dinsdag, 18 September uitspraak gelewer het oor die wettigheid van die gebruik en kweek van dagga.
Regter Zonda het gesê: "Dit sal nie 'n kriminele oortreding wees vir 'n volwassene om dagga in privaatheid te gebruik of in besit daarvan te wees nie."
Dave van der Walt, woordvoerder en sekretaris van die sportraad het Vrydag, 21 September gesê: "Volgens die World anti-doping association (Wada) is dagga steeds 'n verbode middel in sportgeledere. Die status quo sal deur die Eden-sportraad gehandhaaf word."
Van der Walt se standpunt word ondersteun deur die sportraad se voorsitter, Desmond Speelman. Speelman het tydens Woensdag, 19 September se afrigterskonferensie ook gesê die sportraad is teen die gebruik van dagga deur sy atlete.
Van der Walt het egter bygevoeg dat sportbelangheb-bendes eersdaags sal vergader oor die impak van die dagga-uitspraak.
Die volgende cannabinoids is verbode:
- natuurlike cannabinoids, soos cannabis, hashish en marijuana,
- sintetiese cannabinoids, soos /9-tetrahydrocannabinol (THC) en ander cannabimimetics.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'