GROOT BRAKRIVIER NUUS - Groot Brak-inwoner, Blackie Swart (61) het onlangs as veteraan-bokser aan die PFC-bokstoernooi in Kaapstad deelgeneem.
Dit was sy eerste keer in die bokskryt in 38 jaar.
Louise Karsten van die Mossel Bay Advertiser het met hom oor hierdie uitsonderlike deelname gesels.
Hoe het dit gekom dat jy as veteraan-bokser aan die bokstoernooi deelgeneem het?
Hulle het my gebel en gesê PFC-promosie beplan 'n toernooi en wil veteraan-boksers kry om ook daaraan deel te neem. Voor ek nog mooi daaroor kon dink, het ek ja gesê en daarna was ek elke dag kwaad vir myself as ek vroeg moes opstaan om te oefen.
Hoeveel tyd het jy gehad om te oefen?
Seker vier, vyf weke. Nie genoeg tyd nie, en dit is hoekom ek so bekommerd was oor hoe dit sal gaan. Ek was immers 38 jaar laas in die kryt.
Wie was jou opponent?
Leslie Spike Brooker. Hy was 'n Suid-Afrikaanse kampioen vroeër jare en 'n weermagkampioen. Hy was ook 'n Springbok-skopbokser op sy tyd.
Was jy boksfiks?
Ek was redelik betrokke omdat ek boks in George tans afrig. Hier en daar het ek teen die outjies geskerm, maar ek was lank beseer gewees. So ek het seker vir agt maande niks gedoen nie. As ek eers ja vir iets sê, draai ek nie om nie. So toe moes ek begin oefen.
Hoe het jy voorberei?
Ek het by die huis geoefen deur teen 'n bokssak te slaan en ek het geskerm.
Hoe was die atmosfeer by die toernooi?
Die toernooi is in Kaapstad gehou. Ek was die oudste van die veterane. My opponent, Leslie is 56. As jy nie fiks is nie, kan 'n ronde in boks soos 'n jaar voel, want jou opponent slaan terug ook. Ons het drie rondes geboks van drie minute elk. Ek het die eerste ronde gewen, maar tydens die tweede en die derde ronde is ek afgeslaan.
Ek is ná die toernooi genooi om in Port Elizabeth te boks en ook in Saldanna. Mense het my by die toernooi oorval om te gesels, ou kennisse wat nie kon glo dat ek dit na al die jare weer gedoen het nie. My familie wil egter nie hê ek moet weer boks nie. Ek kry teenkanting van my broer, my vrou, Maryna en my seun, so ek twyfel of ek weer sal deelneem, maar ek sou graag met 'n wen wou eindig.
Wie het jou tydens die toernooi ondersteun?
Ek het geweldig baie ondersteuning gekry. My seun het spesiaal van Engeland gevlieg met boksskoene vir my, omdat my ou skoene nog leersole gehad het. SA Sports League se eienaars en mense vir wie ek afrig het my geborg met my boksklere. Vriende van Groot Brak het my kom ondersteun en spesiaal Kaap toe gery vir die geleentheid en my broer, Adolph Swart wat vanaf Klerksdorp gery het om te kyk.
Hoe het dit gevoel om na al die jare weer te boks?
Ek wou niemand teleurstel nie. Soos al die jare het die senuwees aan my geknaag tot die klok lui. As die klok eers lui moet jy net boks. Ek was verbaas - dit het eintlik maklik gegaan. Alle eer aan die Here dat ek nog op die ouderdom van 61 en na 38 jaar laas in die kryt bevoorreg was om in so 'n toernooi te kon boks. Ek het geen beserings of letsels oorgehou nie.
Een van die toeskouers het die volgende kommentaar oor die boksgeveg tussen die twee veterane geskryf, en volgens Blackie, som dit die geveg op: "I'm gutted for the old boy. He won the first round cleanly, landed a good few blows and was ahead on points. Started the second round well again and went ahead on points again, then he took a big right hand to the jaw and went down. Took the count to eight which meant he lost the second round. Started strongly in the third and went again ahead on points, then he walked into that bloody right hand again! So again lost the third by default."
So verloor ek my laaste geveg op punte maar word baie vriende ryker.
Wil jy enigeen bedank?
Graag. Dankie aan Sean, Chantel en Chayse Norris van SA Sports League in George vir die borg en ondersteuning. Ook dankie aan my seun Gerhard Swart wat vanaf Engeland gekom het vir die geveg. Ook my broer Adolph wat vanaf Klerksdorp gekom het en die after party geborg het. Dankie Rupert Marx wat saam met my geoefen het en die hardste geskree het. Dankie ook aan my vriende van Frangos, Lourens van Nieuwenhuizen, Pieter van Pletzen en David Davidson en my vrou, Maryna. Ek is baie lief vir julle almal.
'Ons bring jou die nuutste Groot Brakrivier, Tuinroete nuus'