Die eerste Jakkalsvlei Bergfietsren oor 25km en 60km onderskeidelik, asook die Jakkalsvlei 8km-wedloop vind op dié dag plaas en deelnemers van oral word verwag om die vallei tussen die Langeberge te kom ontdek.
Deelnemers sal sterk moet wees om te verhoed dat trosse goudgeel Hanepoot hulle dalk van stryk bring terwyl die adrenalien pomp op die familieplaas wat slegs 40km van die Indiese Oseaan in die Herbertsdale-omgewing geleë is.
As bergfietsry nie jou spesialiteit is nie, maar jy hou van draf, dan sal die oggendlug en interessante terrein oor die 8km jou betower. Jy mag dalk langs die pad ’n skaam jakkals of ’n trop bobbejane teëkom wat jou langs die pad aanmoedig.
Nooi ook jou vriende en familie saam om by die splinternuwe proelokaal te kom ontspan en kwaliteitwyne te proe terwyl hulle aan kaasborde en pizzas smul.
Die proelokaal, wat in Desember ingewy is, smelt perfek met die omgewing saam en kan enige dag met die luuksstes in die Kaapse Wynlande vergelyk word.
Voorafinskrywings vir sowel die wedren as die wedloop kan tot Woensdag 21 Januarie op Trisport se webtuiste gedoen word: www.trisport.co.za.
‘n Bykomende R 20 per laat inskrywing is op die dag van die byeenkoms betaalbaar. Die inskrywingsgelde is R80 vir die 25km, R150 vir die 60km en R90 vir die 8km. Spesiale lisensies vir deelname sal ook teen R35 beskikbaar wees.
Vir navrae, stuur 'n e-pos aan admin@trisport.co.za.
'Ons bring jou die nuutste Herbertsdale, Tuinroete nuus'