EDEN DISTRIK NUUS - Vier bekende sportlegendes uit Eden is verlede Donderdag in die Paarl deur Anroux Marais, Wes-Kaapse minister van kultuursake en sport, vir hul lewenslange bydrae tot sport vereer.
Altesame 13 sportlui uit die Wes-Kaap is op dié wyse as sportlegendes vereer.
Die vier Eden-sportlegendes wat nou deel van die ‘Class of Legends’ is:
Bill Turner
Bill Turner het eers op ouderdom 50 by seiljagsport betrokke geraak en vandag, op ouderdom 83, is hy steeds aktief by die George Lakes Yacht Club betrokke.
Bill het self aan die seiljag-wêreldkampioenskappe deelgeneem, maar sy grootste bydrae was waarskynlik sy onbaatsugtige hulp met die ontwikkeling van opkomende seiljagvaarders.
Tans is daar meer 30 van hulle wat ontwikkel word. Een is pas gekies om in China te gaan deelneem.
Ronald Scholtz
Ronald Scholtz, 'n oudskoolhoof van Pacaltsdorp en 'n man wat diep spore in rugby in die SWD getrap het. Hy het van 1970 - 1980 vir die SWD uitgedraf, maar hy beskou sy bydrae tot skolesport as 'n hoogtepunt in sy sportloopbaan.
Hy het ook per geleentheid die SWD se o/13 Cravenweekspan afgerig.
Derick Petersen
Derick Petersen het die SWD-laerskole in 1978 verteenwoordig. Hy was ook voorsitter van Progress-rugbyklub en hy word beskou as die vader van die Mr Meat-konsep.
Hy was ook spanbestuurder van die SWD Arende en die Stormers en is 'n lewenslange lid van SWD-rugby.
Hy is ook deur Eden-sportraad as lewenslange presteerder vereer. Hy word ook aangewys as die beste skoolhoof in Suid-Afrika.
Lampies Lamprechts
Lampies Lamprechts van Oudtshoorn is 'n persoon wat al diep spore as beide atleet en administrateur getrap het.
Hy het al vyf Comrades-marathons voltooi en was vir meer as 10 jaar die voorsitter van die ASWD-padhardloopvereniging. Hy is tans nog aktief betrokke as meestersatleet en organiseer die weeklikse tydtoetse op Oudtshoorn.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'