MOSSELBAAI NUUS - Georganiseerde motorsport in Mosselbaai het 'n behoorlike hupstoot gekry met die nominering van 'n komitee wat die vooruitsigte vir formele fasiliteite sal ondersoek en stukrag aan ontwikkelingsvoorstelle sal gee.
Op inisiatief van die direktoraat beplanning en ekonomiese ontwikkeling van die Mosselbaai-munisipaliteit is 'n openbare vergadering op Maandag, 25 November in die stadsaal gehou om oor motorsport in al sy fasette vir die dorp te besin.
Meer as 100 motorsportentoesiaste en sakelui van regoor die Suid-Kaap en selfs die Oos-Kaap het die verrigtinge bygewoon en opgewonde reageer op voorstelle dat 'n onbenutte stuk munisipale grond in Mossdustria vir georganiseerde motorsport in al sy fasette ontwikkel word.
Mosselbaai-munisipaliteit het dit duidelik gestel dat die inisiatief deur die verteenwoordigers van elk van die onderskeie kodes in motorsport ontwikkel moet word. Voorts is die uitdaging om befondsing te bekom en om oor 'n bestuursmodel vir die winsgewende bedryf van 'n behoorlike motorsportfasiliteit vir die dorp te besin.
Almal was dit eens dat die inisiatief vir Mosselbaai 'n ekonomiese inspuiting kan wees wat voordele vir toerisme asook werkskepping tot gevolg kan hê. Mosselbaai se ligging, goeie diensleweringsrekord, puik fasiliteite en infrastruktuur van hoogstaande gehalte maak die dorp by uitstek geskik ook vir georganiseerde motorsport.
Die voorgstelde stuk grond (in pienk) by Mossdustria wat aan die munisipaliteit behoort, gaan ontwikkel word om motorsport na Mosselbaai te bring.
Voorstelle dat die motorsport ook a la Monaco die bestaande strate van Mosselbaai kan insluit, is geopper en groot waardering is uitgespreek vir die suksesvolle byeenkoms deur die talle Lamborghini's vroeër vanjaar.
Die genomineerde komitee verteenwoordig die meeste van die bestaande motorsportkodes en sal bygestaan word deur kundiges in die organisering van motorsportbyeenkomste asook deur administratiewe steun.
Die munisipale bestuurder, adv Thys Giliomee het die komitee sterkte toegewens en benadruk dat besluite nie tot net hierdie groep verteenwoordigers beperk sal wees nie. "Dié komitee sal natuurlik met verloop van tyd kundigheid en tegniese vaardighede kan koöpteer," het Giliomee gesê.
Die komitee bestaan uit: Bennie Greylingh, Charles Bongers, Bobby Hack, José Dacambos, Paolo Mastrogiuseppe, Anthony van Oudtshoorn, Rozetta Sinkfontein, Tertius Moodien, Glen Lionie, Jacques Bouwer, Gys van Staden, Dawid Scholtz, Johan Jacobs en Theuns Vorster.
Die komitee van georganiseerde motorsport in Mosselbaai is van links, agter, Dawid Scholtz, charles Bongers, Theuns Vorster, Gys van Staden, Bennie Greylingh, Anthony van Oudtshoorn, en Karel Venter. Voor: Rozetta Sinkfontein, Johan Jacobs, José Dacambos, Paolo Mastrogiuseppe, Thys Giliomee (munisipale bestuurder), Bobby Hack, Glen Lionie en Quin Harding. Foto: Jannie du Plessis
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'