MOSSELBAAI GHOLFNUUS - Mosselbaai het Woensdag, 14 April een van die heerlikste dae beleef wat dit vir 'n groot aantal gholfspelers 'n wonderlike ervaring gemaak het. Diegene wat gelukkig is om vroegoggend Mosselbaai-gholfklub se lowergroen setperke en skoonvelde te bewandel, kan getuig dat dit sielsvreugde verskaf wat nie maklik oorvertel kan word nie.
Opmerklik van die afgelope week se kompetisies is dat die vroue besonder goed presteer het.
Die individuele stablefordkompetisie wat van stapel gestuur is, het 152 spelers se harte verbly.
Jurgens Bosman en Hester de Jager het mekaar behoorlik opgekeil, maar Jurgens het die uittel-proses oorleef en het op 39 punte as oorwinnaar uit die stryd getree. Hester was die gewilde naaswenner. Clive Kaptein het die derde plek op 38 punte ingeneem. 'n Groot aantal spelers het op 37 punte hulle stemme dik gemaak. Meyer Bosman, Deon Schoeman, Annette Pretorius, Dawn Wessels en Tjoepie Pretorius kon ook nog die prystafel besoek.
Saterdag
Die heerlike weer het Saterdag, 17 April voortgeduur.
'n Groot aantal spelers het aan die beterbal stablefordkompetisie deelgeneem.
Dawid Gouws en Willie Roux het goed kombineer en op 44 punte het hulle die uittel teen Tracy Venter en Gloria Greyvenstein gewen.
Alfred du Plessis en Noël Domingo (43 punte) was kort op hulle hakke en behaal die derde plek.
Twee van die klub se ou karperde en manne wat nie dikwels die prystafel besoek nie, Chris Brits en David Wandrag, het met hulle 42 punte die vierde plek ingeneem. André Middel en Roelof Engelbrecht (42 punte) het ook breed geglimlag met die ontvangs van die vyfde prys.
Winter-uitklopkompetisie
Die Winter-uitklopkompetisie vorder fluks. Gert Pieterse, een van die vorige kampioene, is reeds deur na die volgende ronde nadat hy die belowende Gary Brandt uitgeskakel het. Die twee broers, Len en Johan Strauss, wat 'n gedugte kombinasie is, het ook deurgedring na die volgende ronde in die dubbelspel.
Deelnemers word gemaan om betyds hulle verpligtinge na te kom en te verseker dat hierdie prestigeryke kampioenskappe behoorlik tot sy reg kom.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'