MOSSELBAAI NUUS - Met die droogte wat letterlik Boggomsbaai en omgewing wurg, is dit moeilik om 'n natuurgholfbaan soos Boggomsbaai s'n voor te berei vir gaste wat jou kom besoek.
Dis opvallend dat die Mosselbaai- en George-omgewing heelwat groener is na die onlangse reën, teenoor die dorre omgewing as jy uitry na Boggomsbaai en Vleesbaai toe.
Maar dan maak die gasvrye en vriendelike Boggomsbaaiers op hul joviale manier op vir al die
tekortkominge op die baan en trakteer hulle hul gaste sodat almal die andersoortige ervaring baie geniet. Die klubbestuurder, Hanna Roux, heet almal welkom met 'n heerlike ontbyt en die varsgebakte brode is watertandlekker.
Twee en veertig Suid-Kaap Sagesspelers het op Dinsdag, 20 Maart aan 'n beterbal stablefordkompetisie met 'n voorkeurdryfhou kom deelneem.
Vir Breggie en Stoffel Maritz, wat op die dag by die Sages aangesluit het, was dit 'n eerste ervaring op oliesetperke.
Hulle het so pas uit Mpumalanga na Mosselbaai verhuis, maar aan diè afgetrede onderwyser en sy vrou was daar op die ou end geen keer nie en hulle skop stof in die ander pare se oë. Die volledige uitslag was as volg:
- Breggie en Stoffel Maritz (Mosselbaai) 53
- Thys Cronjé en Willie Albertyn (Stilbaai) 52
- Ernest Roux en Chris Feiertag (Boggomsbaai) 52
- Denzil Engelbrecht en Davie Roberts (Riversdal) 49
- Willem du Plessis en John van Rensburg (Boggomsbaai) 49
- Jan Storm (Heidelberg) en Dirk Bosman (Stilbaai) 49
Die naaste aan die penne, soos altyd geborg deur JC Slagtery van Riversdal, is gewen deur Jannie Goosen (Riversdal) en Martin Speelman (Boggomsbaai).
Port Elizabeth
Op 4 en 5 Maart het nege van die Suid-Kaap Sagesspelers aan die vyfhoekige toernooi in Port Elizabeth gaan deelneem. Suid-Kaap eindig in 'n sterk 2de plek na Grens in die toernooi en Niel van Heerden van Mosselbaai eindig in die algehele tweede plek oor die twee dae. Davie Roberts van Riversdal presteer ook goed om die IPS-kompetisie op die tweede dag te wen. Baie geluk aan almal wat gaan speel het en aan die twee manne wat presteer het.
Die volgende Sagessaamtrek is op 24 April op Heidelberg. Die formaat is 'n geelbal-beterbalkompetisie.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'