MOSSELBAAI GHOLFNUUS - Augustus het afgeskop met Bounty Wildsverwerking se bekende en gewilde borgdag. Die individuele stablefordkompetisie het goeie tellings tot gevolg gehad en 'n besoeker, Werner Ferreira, het ons mooi baan terdeë geniet en vanaf 'n voorgee van 5 het hy op 39 punte koning gekraai in die A-afdeling.
In die B-afdeling was die stryd fel, maar Stephen Terblanche het net-net genoeg skietgoed gehad om na die uittel op 40 punte te seëvier. Percy van Schalkwyk het op sy stil, rustige manier van dinge doen, 40 punte in die C-afdeling opgestapel wat hom 'n gewilde wenner gemaak het.
Ten spyte van die strawwe mededinging het Hennie Botha (40 punte), Oosie Oosthuizen, Dawn Wessels, Johan Stander, (almal 39 punte), asook Hettie Bruwer en Tjoepie Pretorius, albei op 38 punte, ook nog in Bounty se heerlike vleispryse gedeel.
Saterdag
Saterdag, 4 Augustus moes die Suid-Kaapse ligawedstryde plaasvind, maar met die weervoorspellers wat baie reën voorspel het, het die Suid-Kaapse holfunie besluit om liefs die wedstryde uit te stel. Die plaaslike lede wat besef dat 'n weervoorspelling vir Mosselbaai haas onmoontlik is, het Satermiddag kom afslaan en in heerlike weer aan die individuele stableford-kompetisie deelgeneem.
Jean Borchardt se 40 punte in die A-afdeling het hom rede gegee om breed te glimlag met sy eerste prys. Gerrit van Zyl het ook sy teenstanders getroef deur op 40 punte die B-afdeling in te oes. 'n Man wat deesdae sy teenstanders moedeloos maak met sy konstante, goeie, gedissiplineerde gholf, is Oosie Oosthuizen. Sy 39 punte in die C-afdeling het verseker dat hy die wennerspodium bestyg. As bejaarde speler stel hy 'n voorbeeld om steeds sy spel te verbeter, want in die afgelope maand het sy voorgee met 5 houe verminder.
Winter-uitklop
Die winter-uitklopkampioenskappe vorder ook fluks. André Middel het in die enkelspel reeds deurgedring na die halfeindronde en wag vir die wenner tussen Roelof Engelbrecht en Hendrik Kriek. In die ander been van die kwarteindronde moet Gert Pieterse en Jonathon Shelver, asook Stefan van Vuuren en Jean Borchardt nog kragte meet.
Dit is bemoedigend om te sien dat spelers hulle rondtes betyds afgehandel kry.
Die lente breek oor minder as drie weke aan en heerlike warmer en langer dae is net die medisyne wat nodig is om die gholf wat gedurende die winter 'n bietjie verroes het, weer op standaard te bring.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'