MOSSELBAAI GOLF-NUUS - Gure, reënerige weer het Woensdag, 19 September die mees entoesiastiese gholfspelers die handdoek laat ingooi en kon Global Golf se maandelikse geborgde dag nie plaasvind nie.
Die langnaweek het egter afgeskop met heerlike weersomstandighede en Saterdag, 22 September het 184 spelers van heinde en verre aan die beterbal syferplus-kompetisie deelgeneem.
Die gedugte kombinasie van Pat Good en Nick Weideman het vrugte afgewerp en na die uittel het hulle koning gekraai op +12. Derek van Heerden en Div de Villiers (+12) het die tweede plek gevul.
Op +11 het Sakkie Morrison en André Lambrecht verseker dat hulle die derde plek inneem. Die volgende spelers het ook in die heerlike vleispryse gedeel: T Kasselman en B Power (+10), W Schoeman en J Borchardt (+9). D Geldenhuys het met die hulp van sy spookmaat op +8 geëindig, asook A van Niekerk en S Terblanche.
Erfenisdag
Maandag het 'n groot aantal spelers Erfenisdag op ons mooi baan kom geniet. Die individuele stablefordkompetisie is deur 'n besoeker van George, Raymond Calitz, op 39 punte gewen. Die talentvolle, agtienjarige Lize-Mari Prinsloo, het ook 39 punte aangeteken, maar is na die uittel tweede geplaas. Die stryd was fel om die oorblywende plekke en vyf spelers het 38 punte aangeteken en na die uittel het hulle soos volg geëindig: C Kaptein (3de), G Morrison (4de), H Duminy (5de) en M Otto (5de). Kosie Otto het op 37 punte ook nog in die pryse gedeel.
Winteruitklop-dubbels
Die winteruitklop-dubbels stuur op 'n spannende einde af.
In die eerste halfeindstryd het die gedugte kombinasie van Jonathon Shelver en Werner Bekker hulle rieme behoorlik styfgeloop.
Die entoesiastiese, kompeterende Ferdie Jonck en sy meer rustige maat, Anton Steenkamp, het verspot maklik na die finaal deurgedring.
In die ander halfeindstryd meet Johan Strauss en Jurgens Bosman kragte teen Dawid Gerber en Div de Villiers.
AJV
Mosselbaai-gholfklub se algemene jaarvergadering vind vandag, Vrydag 28 September om 19:00 in die klubhuis plaas.
Lede word versoek om hierdie baie belangrike vergadering by te woon en deel te word van die opwindende tye wat by ons klub plaasvind.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'