MOSSELBAAI NUUS - Spelers moet solank hulle vere begin regskud, want ons jaarlikse Ou Mutual-klubkampioenskap is om die draai.
Die vroue se kampioenskappe vind op Donderdag, 1 Maart plaas, gevolg deur die veterane (70 jaar+) se kampioenskap op Saterdag, 3 Maart. Genoemde kampioenskap vind oor 18 putjies gedurende die oggendveld plaas.
Op Saterdagoggend, 10 Maart en Sondagoggend, 11 Maart vind die klubkampioenskap plaas wat in drie afdelings beslis sal word.
Die A-afdeling (voorgee 0-9); B-afdeling (voorgee 10-18) en die C-afdeling (voorgee 19+). Die senior kampioenskap (50 jaar+) vorm deel van hiervan. Plaas so gou as moontlik jou naam op die inskrywingslys wat op die kennisgewingbord by die klub aangebring is. Baie dankie aan Ou Mutual (Sieg Stander) wat al vir baie jare as borg van hierdie kampioenskap optree.
Woensdag
Bounty Wildsverwerking se gewilde borgdag op Woensdag, 7 Januarie het 184 spelers baan toe gelok. Die A-afdeling van hierdie individuele stablefordkompetisie is deur Francois de Villiers op 'n stewige 41 punte gewen. Rickus Serfontein het in die B-afdeling sy stem behoorlik dik gemaak en op 42 punte het hy sy opponente kafgedraf. Hendrik Vorster was ook 'n welkome gesig wat by die prystafel opgedaag het, nadat hy op 38 punte die C-afdeling ingeoes het. Uitstekende tellings is ook deur die volgende spelers aangeteken: J Griesel (41 punte), H Klopper, M Rehr, W Bekker, L du Plessis (almal op 40 punte.) Baie dankie Div vir jou lojale borgskap.
Saterdag
Wikus Schoeman en Danie van Zyl was Saterdag, 10 Februarie behoorlik op hulle stukke en op 49 punte het hulle koning gekraai in die beterbal stablefordkompetisie. Die 87-jarige George Sadowski en sy maat, Louwtjie Louw, het na die uittelproses op 48 punte seker gemaak van die tweede plek. F van Vuuren en P Botes, asook M Mulder en W Brand, G Gagiano en B Saayman, almal 48 punte het die ander plekke gevul. Selfs op 46 punte het E Duthie en A van Aswegen 'n heerlike braaipak huis toe geneem.
Die gewildheid van Mosselbaai-gholfklub word duidelik weerspieël deur die aantal spelers wat ons baan besoek. Die eerste twee weke van Februarie het 'n gemiddelde aantal spelers van 185 spelers daagliks op ons baan gespeel. Ons het tans 92 oorsese oftewel "swaeltjielede" wat ruim bydra tot welstand van ons klub.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'