Ons B-span, onder leiding van Johan Strauss, het tuis teen die gedugte span van George kragte gemeet.
Die Mosselbaaiers het reeds gedurende die oggend se beurtspelle (2 wedstryde teen 1) getoon dat hulle nie maklik geklop gaan word nie. Gedurende die enkelspelle was dit vroeg reeds duidelik dat Mosselbaai op pad na 'n skitterende sege is. Met 6.5 wedstryde teenoor 2.5 het die Mosselbaaiers gemaklik deurgedring na die finaal.
Ons twee C-spanne was in weg-wedstryde betrokke en hier het Noël Domingo se C2-span amok gemaak deur op George die tuisspan met agt wedstryde teenoor vier wedstryde te troef. André Middel se C1-span het op Riversdal gedurende die oggend die beurtspelle met vier wedstryde teen nul verloor. Om van so 'n agterstand terug te kom, is bykans onmoontlik. Die Mosselbaaiers het verbete terug geveg en die middag se enkelspelle met 4.5 wedstryde teenoor 3.5 gewen. Ongelukkig was dit nie genoeg om die wa deur die drif te trek nie. Ons twee spanne wat deurgedring het, speel op 8 November in die finaal op George.
Woensdag
Die individuele houespel kompetisie, wat op Woensdag 22 Oktober plaasgevind het, het 144 spelers na die baan laat stroom.
In die A-afdeling (voorgee 0-13) het die gesoute Bertu Nel 'n bruto-telling van 73 houe aangeteken om die afdeling in te palm. Die B- en C-afdelings is onderskeidelik deur André du Plessis (78 houe) en Robert Strydom (90 houe) gewen. In die netto-afdeling het Emile de Bruyn 'n skitterende 62 houe aangeteken.
Die 84-jarige Neels Mostert se netto 66 houe is prysenswaardig en menige jonger speler sal maar te graag so 'n telling op hulle kaarte wil invul. Die ander pryswenners was Fanie van Vuuren (67 houe), Joe Luggen (67 houe) en Stephen le Roux (68 houe).
Saterdag
Ten spyte van die koue, winderige omstandighede het 140 spelers Saterdag 25 Oktober hulle opwagting gemaak. Goeie tellings is nogtans aangeteken met Wynand Stander die wenner op +6 in die A-afdeling. Die skoner geslag het onder die pryse gemaai.
Hester de Jager se +7 was meer as genoeg om die B-afdeling in te palm. Die C-afdeling is deur die 'Iron man' Billy Capel gewen op +6. Die ander pryswenners was Cynthia Zietsman (+6), Les de Jager (+4) en 81-jarige, immergroen Annette Meyer (+3).
'n Heerlike gholfweek, geluk en vreugde word u toegewens vir die komende week. 'n Kuiertjie by die gholfklub is soms net die regte medisyne om van vele sorge te vergeet.
Die wenners van die individuele houespelkompetisie wat op Woensdag 22 Oktober plaasgevind het: Emile de Bruyn, Joe Luggen, E Kalbermatten, André du Plessis en Fanie van Vuuren.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'