BOGGOMSBAAI GHOLF NUUS - Wanneer 'n mens 'n sukses van iets wil maak, verg dit deeglike beplanning en baie harde werk. En dit is presies wat die Boggomsbaai-gholfklub vanjaar met die jaarlikse Sanlam Kansadag gedoen het.
Goeie planne en gereelde inisiatiewe het meegebring dat dié klein klub R10 805 bymekaargemaak het vir die verdienstelike saak. Dit is R3 000 meer as wat in 2018 ingesamel is.
Die spelers het gereeld bygedra met whiskytrekkings, veilings van goed wat geskenk is en ook privaatskenkings. Die kroegbestuurder, Hanna Roux, en haar man, Ernest, moet egter 'n groot klop op die skouer kry vir die entoesiastiese manier waarop hulle al die drade bymekaar gehou het oor die afgelope paar maande. Hulle het ook baie suksesvolle Bingo-aand geïnisieer wat 'n stewige bydrae tot die fonds gelewer het. Baie dankie aan julle twee.
As gevolg van die feit dat verskeie klubs hul Sanlam Kansadae op 11 Mei gehou het, kon daar nie Kansaverteenwoordiger by Boggomsbaai-gholfklub wees nie, maar Noelle van Schalkwyk, fisioterapeut van Hartenbos en 'n lid van die Boggomsbaai-gholfklub, het as
verteenwoordiger opgetree. Sy en haar man, Leon, mediese dokter, werk gereeld saam met Kansa by groter kankergeleenthede en sy het dan ook 'n toespraak gehou oor die werksaamhede van Kansa.
Baie dankie, Noelle, vir al jou moeite, ook met die baniere en pryse. Uit die aard van die saak word Sanlam ook hartlik bedank vir die skenking van al die pryse in die verskillende afdelings.
Uitslae
Die Sanlam Kansagholfdag word in verskillende afdelings op IPS-formaat afgehandel en op Boggomsbaai het die volgende spelers die beste gevaar:
A-afdeling: 1. John van Rensburg 36; 2. Leon van Schalkwyk 34; 3. Malan Cronjé 34.
B-afdeling: 1. Angus Frans 42; 2. Johan Winterbach 38; 3. Ernest Roux 35.
C-afdeling: 1. Willem du Plessis 34; 2. Tannah Harris 31; 3. Tinus Prinsloo 29.
Vroueafdeling: Noelle van Schalkwyk 36. Noelle wen ook die naaste aan die pen op 9/18.
Baie dankie aan al die spelers wat kom speel het.
Julle het gesorg dat die Boggomsbaai-gholfklub tevrede kan wees met hul bydrae aan Kansa.
'Ons bring jou die nuutste Boggomsbaai, Tuinroete nuus'