MOSSELBAAI GHOLF NUUS - Die 124 spelers wat Woensdag, 29 Augustus die voorreg gehad het om aan die maandelikse sakemannedag deel te neem, het in heerlike weersomstandighede die stokke geswaai. Die beterbal stablefordkompetisie het gesorg dat daar sterk gekompeteer is en goeie tellings is aangeteken.
Die 84-jarige Colin Buck en sy veel jonger maat, Markie Sciarone, se 51 punte het hulle laat koning kraai. Kort op hulle hakke was Werner Bekker en Pierre Botes op 50 punte.
Twee veterane, Wayne Mitchell en Nick Weideman, se 49 punte het aan hulle die derde plek besorg.
Die volgende spelers is ook met groot pakke vleis huis toe: D Bouwer en E Malherbe (48 punte), H Duminy en W Schoeman, T Teichert en S van der Merwe, A du Plessis en J Buys (almal op 47 punte). N Domingo en B Mintoor is op 46 punte ook nog beloon.
Saterdag
Saterdag, 1 September is die Kampioen van Kampioene vir 2017/2018 ook gekroon. Gert Pieterse het in die individuele stablefordkompetisie 44 punte aangeteken en verseker dat hy as kampioen gekroon word. Wel gedaan Gert, jy het dwarsdeur die jaar goed vertoon en die titel is welverdiend. In die A-afdeling van die gewone kompetisie het André Zeelie se 42 punte hom eerste laat eindig en derde in die kampioen van kampioene.
Adin van Aswegen wat ook die naaswenner in die kampioen van kampioene was, het die B-afdeling op 42 punte gewen. Gert Pieterse was baas op 44 punte in die C-afdeling. Vanaf die vierde tot die agste pryse is op die uittel-basis bepaal. J Zietsman, F van Vuuren, G van Deventer, E Barkhuizen en S van Vuuren het almal 42 punte aangeteken en in genoemde volgorde geëindig.
Wenners van die sakemannedag is van links, agter: W Mitchell, E Malherbe, D Bouwer, R Smit, H Duminy, W Bekker, T Teichert, S van der Merwe Voor: N Weideman, C Bock, M Sciarone en P Botes.
Ligaspanne
Twee van ons ligaspanne het Saterdag, 1 September na die halfeindronde van die Suid-Kaap-ligakampioenskappe deurgedring. Die halfeindstryde teen George vind môre, Saterdag 8 September op Simola plaas. Sterkte aan Morné Hugo en Elmar van den Berg en hulle spanne vir die stryd wat voorlê.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'