GHOLFNUUS - Ernie Els, tweemalige wenner van beide die Amerikaanse én die Britse Ope gholftoernooie, is vol hoop dat tussen die Mosselbaaier Aldrich Potgieter en die Georgiet Christo Lamprecht, die aflosstokkie oorgeneem sal word om binnekort weer 'n Suid-Afrikaanse Major-kampioen op te lewer. Suid-Afrika gaan tans deur 'n ernstige "droogte" wat dit betref.
Els was in 2012 die laaste plaaslike speler om 'n Major te wen toe hy op 42-jarige ouderdom sy tweede Britse Ope op Royal Lytham St Annes gewen het ná hy dié gesogte titel die eerste keer in 2002 op Muirfield verower het. Sy twee Amerikaanse Ope titels het hy in 1994 en 1997 op die moeilike Amerikaanse Oakmont en Congressional bane agter sy naam geskryf.
"Wat ek van dié twee outjies gesien en ondervind het, gee my hoop vir die toekoms," het hy vroeër vandeesweek in gesprek gesê toe hy gepols is oor dié twee Suid-Kaapse jongelinge, wat oor die afgelope twee seisoene die uitsonderlike prestasie behaal het om die Britse Amateur-titel op die St Andrews baan, algemeen beskou as die Home of Golf, te verower.
Els was die afgelope week vir 'n vinnige heen-en-weertjie by sy huis op Heroldsbaai om sy ouers te besoek en om na sakebelange om te sien.
"Daar sal egter 'n kopskuif moet plaasvind. Hulle sal moet besef om sukses in die internasionale arena te behaal, sal hulle moet besluit om 'n meer permanente tuiste in óf Amerika óf in Europa te vestig. Daar waar dinge gebeur. Ek het aan die begin van my loopbaan aanvanklik ook probeer om die heeltyd terug te keer Suid-Afrika toe wanneer ek 'n breek geneem het, maar dit werk nie. Toe ek daardie, en glo my dit was moeilik, besluit geneem het, het dinge loopbaangewys baie verbeter.
Christiaan Bezuidenhout
"Ek sien dit ook met Christiaan Bezuidenhout gebeur. Hy was verbonde aan my Stigting, maar, soos ek, aan die begin, is hy kort-kort in Suid-Afrika. As speler verloor jy momentum en in dié mededingende wêreld, is dit nie wat jy nodig het nie. Jy verloor fokus en jy kan nie vir 'n oomblik laat slaplê nie.
"Ek dink Christo is halfpad daar omdat hy aan die Universiteit van Georgia Tech in Atlanta verbonde is en ook kollege-gholf speel. Daar is geen beter leerskool as dit nie. Dis moelik. Ek weet. Maar om sukses te behaal, is dit noodsaaklik om afstand te kry en om daarmee te volhard," het Els verduidelik.
Els sê hy was verlede jaar taamlik verbaas oor die jong Potgieter se balbeheer gedurende 'n oefenronde op St Andrews. Die week voor die Britse Ope. "Ek en Louis (Oosthuizen, voormalige wenner van die Britse Ope in 2010 juis op St Andrews) het dié ronde saam met Aldrich gespeel en die wind het gepomp soos dit net op 'n Links-baan kan gebeur. Op die 11de putjie (syfer 3, 180m) het hy teen die wind 'n ongelooflike goeie hoë bal geslaan. Téén die wind!
"Ek het die storie so gekyk en gedog om 'n uitdaging aan hom te rig. Met die gholfsak, wat links langs die bof gestaan het, het ek vir hom gesê om weer die setperk te haal, maar dié keer moes hy die bal laag hou so hoog soos die gholfsak is. Die aarde het letterlik gebewe soos hy ingeklim het, maar hy het dit reggekry. Sonder om twee keer te dink. Met sy volgende bofhou of die 12de putjie (syfer 4, 351m) het hy weer met die drywer nog 'n goeie hou gespeel. Jip, ek dink ons het in Potgieter en Lamprecht twee sterre op pad, wat binnekort die wêreld weer aan die brand kan speel. Ons het dit verseker nodig," het hy gesê.
Vroue-rugbyspan
Els, wie se dogter, Samantha, gister in Stellenbosch aan die Springbok proewe vir die vroue-rugbyspan deelgeneem het, het gisteraand teruggekeer Engeland toe waar hy en sy vrou, Leizl, vanaand se opwarmingstoets tussen die Bokke en Nieu-Seeland voor 'n uitverkoopte Twickenham sal bywoon.
Wie gaan die Wêreldbeker wen was die laaste vraag aan Els, in hart en siel sy lewe lank 'n Leeu-ondersteuner. 'n Ellispark Leeu, vir die wat nie weet nie.
"Natuurlik wil ek hê die Bokke moet dit weer doen, maar die All Blacks bekommer my. Vrydagaand (vanaand) gaan 'n goeie rigtingwyser wees," het hy laggend opgemerk.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’