MOSSELBAAI NUUS - Met die eerste herfsmaand byna verby en die bladwisselende bome wat nou vinnig van hulle blare ontslae raak, bly dit nog steeds een van die mees skouspelagtige tye van die jaar.
Die pragtige herfskleure inspireer sekerlik menige skilder. Aan die gholffront verloop alles nog klopdisselboom en is dit aangenaam om te sien hoeveel vreugde uit die spel geput word.
Woensdag
Die gewilde oud-onderwyser Dawie de Beer, speel deesdae kookwatergholf. Sy uitstekende 41 stablefordpunte by Woensdag, 16 Maart se Denzil Kleu Eiendomme-dag, het hom na die uittel eerste by die wenpaal verby laat blits. Veteraan Brian Power was die naaswenner op 41 punte.
Martin van Rensburg wat vir baie jare nie gholf gespeel het nie, toon weer tekens van sy ou briljantheid.
Sy 40 punte besorg aan hom die derde plek en ek glo ons sal hom nou gereeld na die pryswennerstafel sien stap. Die vierde en vyfde plekke is onderskeidelik deur Gerhard Combrinck (39 punte) en Nick van Noordwyk (38 punte) ingeneem.
Saterdag
Die vierbal alliansie-kompetisie op Saterdag, 19 Maart het die manne hard laat werk, want die drie beste tellings moes bymekaargetel word.
Ashwell Cameron het sy span puik gelei en op 133 punte behaal hy en sy spanmaats bestaande uit Michael Kriel, Brown Voster en Clive Kaptein sukses.
Op 'n totaal van 126 punte was Martin van Rensburg, Nico van Vuuren, Alfred du Plessis en Johnny Fourie die naaswenners. Oud maar nog nie koud het die span van Pat Good, Wayne Mitchell, Nick Weideman en Joe Gray op 125 punte hulle in die derde plek ingewikkel.
Die Suid-Kaap-liga skop op 23 April af en ons wens ons twee spanne die allerbeste toe. Manne daar is genoeg tyd oor om behoorlik julle vaardighede op te skerp. Lekker oefen en gaan hou ons naam hoog.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'