MOSSELBAAI GHOLFNUUS - Die heerlike reën wat verlede week uitgesak het, was soos manna uit die hemel vir ons dorstige baan. Dit bly maar net wonderlik hoe vinnig Moeder Natuur se towerstaf die vaal grassies in 'n lowergroen paradys kan omskep.
Op Woensdag, 21 November het 136 spelers aan Global Golf se maandelikse geborgde gholfdag deelgeneem. Houespel is nie by alle spelers ewe gewild nie, maar met Arrie van der Linde aan die stuur van hierdie geborgde dag, lok dit elke maand hordes spelers baan toe. Jacques Budricks, 2017 se klubkampioen, het hom goed van sy taak gekwyt en met 'n bruto-telling van 72 houe het hy koning gekraai.
In die netto-afdeling was die stryd fel en na die uittelproses is Edward Pretorius op 67 houe as die wenner aangewys. Johan Stipp en Matthew Lundie se 67 houe het hulle onderskeidelik tweede en derde laat eindig. Om die vierde tot die sesde plek te bepaal moes die uittelstelsel weer eens gebruik word. Pat Good is vierde geplaas met Pieter Venter en Joos van den Heever wat hard in sy nek geblaas het. Op 70 houe het Jurgens Bosman en Bennie Badenhorst ook nog in die pryse gedeel.
Saterdag
Op Saterdag, 24 November het die rugby-uitsendings nie die spelers van die baan gehou nie, want 156 spelers het lustig die stokke kom swaai en kon nog betyds tuis wees om die toets tussen die Bokke en Wallis te beleef. Die beterbal syferpluskompetisie is deur twee besoekers van die Strand, Jacobus van Eeden en Christiaan Neethling, na die uittel op +12 gewen.
Twee van ons ou stalperde, Gielie Gagiano en Bart Saayman, het hulle vernuf ook behoorlik ten toon gestel en is na die uittel-proses tweede geplaas. Die volgende spelers kon ook nog 'n vuurtjie aanslaan met die heerlike pakke vleis wat na hulle kant toe gekom het: S Johnston en B Power, asook A van Aswegen en E Duthie, albei pare op +11.
Donny Smith het met die hulp van sy spookmaat op +10 geëindig en 'n heerlike braaipak was ook vir hom beskore.
Die Desember-skoolvakansie kom nou vinnig nader en afslaantye word reeds fluks bespreek. Lede word versoek om betyds afslaantye te bespreek om teleurstelling te voorkom.
Soos in die verlede verwag ons weer 'n heerlike, besige seisoen met ou kennisse en besoekers wat jaar na jaar terugkeer na ons gewilde gholfklub.
Die wenners by Global Golf se geborgde dag is van links O Pienaar, J Stipp, A van der Linde (Global Golf), E Pretorius, J Bosman en B Badenhorst.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'