MOSSELBAAI NUUS - 'n Groot aantal besoekers was deel van die 184 spelers wat Woensdag, 13 Desember aan die beterbal stablefordkompetisie deelgeneem het.
Die feestelike atmosfeer hier by die gholfklub spreek duidelik dat die spelers hier is om elke oomblik van hulle vakansie te geniet.
Die plaaslike spelers het goeie tellings aangeteken en Anton Izaakse (snr) en Piet Meyer het na die uittel op 48 punte die louere inge-oes.
Gert Pieterse en die bestendige Noël Domingo (48 punte) was die naaswenners. Bennie (Komotie) Badenhorst en Johan van Rensburg se 47
punte het aan hulle 'n verdienstelike derde plek besorg na die uittel.
Die vierde en vyfde plekke ook op 47 punte, is onderskeidelik deur Nic van Noordwyk en Hanlie de Villiers, asook Arrie en Koos van der Linde, ingeneem. Alfred du Plessis en John Masie se 46 punte het ook aan hulle 'n heerlike braaipak besorg.
Saterdag
Saterdag, 16 Desember het twee besoekers, Otto (Drakensberg Garden-gholfklub) en sy seun Ewan van der Spuy (Somerset-Wes gholfklub), die plaaslike spelers getroef deur op 50 punte die beterbal stablefordkompetisie in te palm.
André Middel en Roelof Engelbrecht het kwaai teenstand gebied en op 49 punte die tweede plek ingeneem.
Oud-stryder Dawid Gerber en Francois de Lange het gewys dat daar nog baie skop in hulle oor is deur op 48 punte derde te eindig.
Noël Hudson, wat deesdae kookwater gholf speel, en Johan Buys se 48 punte het hulle in die vierde plek geplaas met Danie Lamprecht en Jan Joubert (47 punte), asook Stefanus Cronje en Carlos Pinto (46 punte) in die vyfde en sesde plekke.
Aan al ons lede, besoekers en vriende wens ons 'n geseënde Kerstyd en 'n voorspoedige Nuwejaar toe.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'