MOSSELBAAI NUUS - Die warm, bedompige weer van die afgelope twee weke het beslis nie die gholfspelers gehinder nie. Uitstekende tellings is aangeteken en selfs ons besoekers het hulle goed van hulle taak gekwyt.
Nashua het Woensdag, 9 Februarie ‘n baie suksesvolle dag aangebied en die 160 deelnemers het die dag terdeë geniet.
Arno von Mansberg (voorgee 19) was vuur en vlam en op ‘n skitterende telling van 43 punte was hy loshande die wenner van die individuele stablefordkompetisie.
André Middel is vinnig besig om weer sy ou kompeterende vorm terug te vind en op 41 punte was hy die naaswenner.
‘n Besoeker, Henk Geldenhuys, het briljante gholf gespeel en vanaf ‘n voorgee van 1 het hy net 68 houe (41 punte) nodig gehad om sy ronde te voltooi. Hy het die derde plek ingeneem.
Drie spelers, R Engelbrecht, G Pieterse en T Muller het ook die prystafel op 40 punte besoek. Hartlike dank aan Werner Botha en Peter Rooyakkers van Nashua vir hulle lojale ondersteuning.
Saterdag
Saterdag, 12 Februarie se beterbal-houespel het die beste uit Bart Saayman en Gielie Gagiano gehaal. Hulle netto-telling van slegs 60 houe het gesorg dat dat hulle die louere inoes. Die skoner geslag het ook hulle stemme laat hoor en op 61 houe was Steffi Symes en Ilsa Billion gewilde naaswenners.
Die spanpoging van JJ Joubert en Louw Strydom het ook vrugte afgewerp en op 62 houe het hulle die derde plek ingeneem. P Smit en D Janse van Rensburg se 62 houe het hulle in die vierde plek laat eindig.
Die immergroen Gert Pieterse en Ben Klindt se 64 houe het ook gesorg dat hulle nog ‘n vuurtjie kon gaan aanslaan by die huis.
Ons splinternuwe klubbestuurder, Steve Basson, het sy talente sommer vroeg uitgestal en vanaf ‘n voorgee van +3 het hy ‘n uitmuntende bruto-telling van 67 houe daargestel.
Wenners van Woensdag, 9 Februarie se borgdag is, van links: S Basson (klubbestuurder), W Botha (Nashua - borg) P Rooyakkers (Nashua - borg), G Pieterse, R Engelbrecht en A Middel.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'