MOSSELBAAI GHOLF NUUS - 100 Reserve het op Woensdag, 14 Novmeber hulle maandelikse gholfdag aangebied.
Anton Steenkamp en Ferdie Jonck sal die dag egter veel langer onthou as die meeste ander spelers, want hulle het in 'n titaniese eindstryd tydens die Winter-uitkloptoernooi teen die gedugte kombinasie van Jurgens Bosman en Johann Strauss te staan gekom.
Na 18 putjies was die spelers kop aan kop en die valbylstryd het in werking getree.
Na die tweede uitspeel-putjie kon Anton en Ferdie triomfantlik hulle hande in die lug gooi om as 2018 se kampioene gekroon te word.
Om terug te keer na 100 Reserve se borgdag (individuele stableford) was goeie tellings aan die orde van die dag. In die A-afdeling (voorgee 0-13) het Chris van den Berg (voorgee 4) sy goeie, bestendige vorm voortgesit en op 42 punte was hy loshande die wenner.
Een van ons lojale, entoesiastiese "swaeltjielede", Peter Kalbermatten, was die wenner van die B-afdeling (voorgee 14-22) op 40 punte. Willem Nel se 38 punte in die C-afdeling (voorgee 23+) was meer as genoeg om hier koning te kraai.
Uitstekende tellings is ook deur die volgende spelers aangeteken: Fanie van Vuuren (41 punte), Wynand Stander en Sakkie van der Merwe (40 punte), André Botha (39 punte) en Hennie Botha 38 punte. Baie dankie aan Kurt Williams van 100 Reserve vir 'n puik borgdag.
Saterdag
Saterdag, 17 November se vierbal alliansie het 144 spelers baan toe gelok. Clive Kaptein en sy entoesiastiese span bestaande uit Kelvin Muller, Anthony Evertse en Aswell Cameron het 'n onaanvegbare telling van 105 punte opgestapel wat hulle naaste teenstanders met 15 punte geklop het.
Paul Brits (President van Mosselbaai-gholfklub) en sy moedige spanlede, John Blythe-Wood, Jonathon Shelver en Attie va Niekerk het op 90 punte na die uittel tweede geëindig.
Derde, ook op 90 punte, is Nico en Maurice Bernardo, Arthur Percival en Dudley Archer, ook nog met 'n heerlike braaipak huis toe.
Die Desember-skoolvakansie kom nou vinnig nader en lede word versoek om betyds afslaantye te bespreek.
Soos in die verlede verwag ons weer 'n heerlike, besige seisoen met ou kennisse en besoekers wat jaar na jaar terugkeer na ons gewilde gholfklub.
Anton Steenkamp en Ferdie Jonck, wenners van 2018 se Winter-uitkloptoernooi (dubbels).
"Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus."