MOSSELBAAI NUUS - Vir die Mosselbaaise gholfspeler en huidige Britse amateur kampioen, Aldrich Potgieter, is 'n droom verlede week verwesenlik toe hy in die gesogte Amerikaanse Meesters op die Augusta-baan in Georgia in die staat Georgia kon afslaan.
Potgieter het vir dié toernooi gekwalifiseer danksy sy oorwinning verlede jaar toe hy as 17-jarige die Britse titel verower het.
FOTOGALERY: Aldrich Potgieter se droom word waar
Dié jong Mosselbaaier was saam met die beroepspelers Louis Oosthuizen en Charl Schwartzel die enigste Suid-Afrikaners, wat vir die 87ste weergawe van dié gesogte Grand Slam-toernooi kon aantree. Slegs die voorste 50 spelers op die wêreldranglys kwalifiseer direk vir die toernooi waarna die res van die veld op uitnodiging voltooi word.
Vir Potgieter, wat ongelukkig ná tellings van 77 en 74 nie die afsnypunt oorleef het nie, was dit nietemin 'n geweldige voorreg om te kon skouers skuur met ander geldspelers soos die vyfmalige kampioen, Tiger Woods, die verdedigende kampioen, Scotty Scheffler, die Ier Rory Mcllroy, en die nuwe kampioen, Jon Rahm van Spanje. Die Aussie en huidige Britse Ope kampioen, Cameron Smith, was ook onder die deelnemers.
Oosthuizen was ook nie in die laaste twee rondes in aksie nie ná hy met slegs die laaste putjie om te voltooi in die tweede rondte onttrek het weens 'n voortdurende elmboogbesering. Schwartzel, wat in 2011 die wenner en die draer van die gesogte groen baadjie geword het, het die afsnypunt oorleef, maar moes met die gesamentlike 50ste posisie tevrede wees.
Potgieter is slegs die vyfde Suid-Afrikaner wat vir dié toernooi as amateur kon kwalifiseer. Die ander spelers voor hom was Bobby Cole, Tim Clarke, Jovan Rebula en Trevor Immelman wat aan die Meesterstoernooi as amateurs kon deelneem.
Immelman het egter in 2008 ook as geldspeler sy stempel afgedruk en het naas Gary Player slegs die tweede Suid-Afrikaner geword om dié titel te verower. Player was drie keer, in 1961, 1974 en '78, aan die wenkant.
Potgieter se ouers, Heinrich en Adéle, het die toernooi ook bygewoon en hul seun ondersteun.
Sy ma het Mossel Bay Advertiser uit die Amerika laat weet dat Aldrich Dinsdag, 11 April, in San Diego by die Scotty Cameron Studio was, waar sy setstok vir hom pasgemaak is. Daarna is hy na die Titleist Sentrum vir die res van sy toerusting.
Woensdag sou hy sy ouers in Orlando, Florida, kry waarna hulle so twee weke gaan rondtoer en dan na Nashville, Tennesee, sal reis vir die laaste paar dae.
Amerikaanse Ope
Sy volgende toernooi is op 1 Junie wanneer hy in die Memorial afslaan waarna nóg 'n Grand Slam toernooi, die Amerikaanse Ope, sal volg.
Volgens sy ma wag hulle nog op bevestiging van 'n paar ander toernooie anders sal hulle op 24 April saam na Suid-Afrika terugkeer voor hy einde Mei Ohio toe sal vlieg vir die Memorial en die Amerikaanse Ope.
"Die Meesters was vir hom 'n ongelooflike ondervinding. Hy het baie geleer die week en Schwartzel en Oosthuizen se breine getap waar hy kon en maar dopgehou wat die groot name doen," het Adéle vanuit Amerika laat weet.
Intussen geniet hy nog sy amateur status en by 'n vorige onderhoud het hy aan die Advertiser gesê: "Ek wil graag die jaar uitsien as amateur en dalk kyk of ek volgende jaar vir die beroepsgeledere kan kwalifiseer. Op my ouderdom is dit van onskatbare waarde en ek probeer soveel leer as moontlik."
"Hy sal ook die res van die jaar aan SA-kompetisies deelneem maar vir nou fokus ons eers op wat voorlê. Ons sien baie uit na die res van die jaar, en is reeds besig om voor te berei vir die volgende grotes," sê Adele.
Met sy eerste Grand Slam agter die rug, is dié jong Mosselbaaise stêr op pad om vir homself 'n rooskleurige toekoms in dié mededingende sport uit te kerf.
Charl Schwartzel, Aldrich Potgieter en Louis Oosthuizen op die Augusta-gholfbaan tydens die Amerikaanse Meesterstoernooi verlede week. Potgieter is die vyfde Suid-Afrikaner wat as amateur in die Meesters speel. Foto’s: Adele Potgieter
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’