GROOT BRAKRIVIER SOKKER NUUS - Vir die afgelope drie jaar is sokker op almal in Groot-Brakrivier se lippe tydens die Junie-skoolvakansie. Te danke aan 'n plaaslike inwoner, Nigel Crowley en sy span word jonk en oud vir 'n paar dae met dié gesonde aktiwiteit, wat boonop kostevry geniet kan word is, besig gehou.
Die Junior Soccer World Cup 2019 het weer eens op 25 Junie begin en duur tot Saterdag, 29 Junie.
Dit is vir die eerste keer in 2017 gehou en groei jaarliks. Die sokkerspanne bestaan uit plaaslike spelers en elke span word uit die onderskeie strate op Groot Brak saamgestel.
Die gemeenskappolisiëringsforum se voorsitter, Johann Muller en sy span staan Nigel by met die reëlings. Muller was ook tydens die Mossel Bay Advertiser se besoek aan die Greenhaven-sportgronde op Woensdag, 26 Junie teenwoordig. Minstens 300 toeskouers, waarvan die meeste kinders en jong volwassenes, sit die pawiljoen vol. Toegang is gratis en daar heers 'n feestelike atmosfeer. Almal se aandag is gevestig op die sokkerwedstryd wat plaasvind. Musiek blêr uit 'n luidspreker en die toeskouers juig wanneer 'n punt aangeteken word.
"Ons wil vir die kinders van Groot Brak iets gee om hulle op 'n gesonde wyse tydens die lang skoolvakansie besig mee te hou. Die departement van sport en kultuursake help ons en bied daagliks vir die sokkerspelers broodjies en vrugte te ete aan, aangesien baie kinders nog niks geëet het teen die tyd wat hulle vir die wedstryd opdaag nie," sê Johann.
Agt spanne
Organiseerder, Nigel Crowley en sy regterhand, Emanuel Abrahams staan ook nader en Nigel vertel dat daar vanjaar agt spanne ingeskryf het. "Die jongste spelers is ons o/12-spelers en ons vat net kinders van die Groot Brak-area af. Onthou, hulle moet reeds vroeg in die jaar hulle spanne saamstel en dan begin die outjies oefen. Hulle is gewoonlik so 20 kinders in 'n groep en het ook hulle afrigters. Die dorp se kinders word dus lank met gesonde goed besig gehou. Ons het ook meisiespanne wat vanjaar deelneem." Nigel sê die eerste wedstryde begin reeds teen 10:00. "Hier is baie talent en ons het regtig goeie sokkerspelers. Dit hou die kinders besig omdat hulle deur die jaar hiervoor oefen. Ons het ook borge wat medaljes gee en waterbottels vir die spelers." Johann sê hulle mikpunt is om die ouers van die spelers ook op die pawiljoen te kry. "Ons wil graag meer ouers by die byeenkoms sien en sal werk aan 'n plan om ouers aan te moedig om na hulle kinders se sport te kom kyk. Dit is net so 'n lekker ontspanningsaktiwiteit vir die ouer garde."
Vandag, op Vrydag 28 Junie is die semi-finaal. Die finaal is op Saterdag, 29 Junie.
Organiseerder, Nigel Crowley, Danel Wentzel van die organisasie Love Life en Nigel se regterhand, Emanuel Abrahams.
'Ons bring jou die nuutste Groot Brakrivier, Tuinroete nuus'