KRIEKET NUUS - - Telesto Ramblers A het met skitterspel deurgedring na die Six Gun Grill SWD se Promosie Liga 1A-finaal. Die wedstryd vind Saterdag 25 Februarie op die Rec-sportveld in Oudtshoorn plaas.
Teen druktyd was dit nog onseker of dit teen NMU Madibaz of Union Stars C gaan wees alhoewel die uitslag vroeër die week was dat NMU hul halfeindstryd gewen het.
Reën het spel Saterdag 18 Februarie onmoontlik gemaak en die wedstryd is geskuif na Sondag 19 Februarie. Thembalethu het die loot gewen en Telesto Ramblers in gestuur om te kolf.
Kaptein Dean Lewis (36, 2 viere) en die 16-jarige Kurt Botha (17) het met 'n 61 lopie 2de paaltjie vennootskap 'n goeie grondslag gelê. Botha spog in sy drie A-span wedstryde met tellings van 40 plus 5 paaltjies, 32 nie uit nie plus 3 paaltjies en 17 tot dusver. 'n Blink toekoms wag op hom in krieket.
Ander goeie bydraes tot die totaal van 177 vir 9 na 50 boulbeurte het gekom van Fabian Campher (23, 1 vier 2 sesse) Arthur Lottering (28, 1 vier 1 ses) en Henwico Stal (20 met 2 viere). Die beste boulers was Enathi Khitshini 10-2-18-3 en Igcobe Khitshini 10-0-48-2.
Thembalethu het met reëlmaat paaltjies verloor in hul beurt van 71 almal uit en het met 106 lopies verloor. Slegs André Mlando 13 en Enathi Khitshini 14 kon dubbelsyfers aanteken.
Skitterende snelboulwerk deur Quinton Davids 8,5-2-11-7 wat 'n driekuns ingesluit het, het hul toporde geheel. maar weens uitputting kon Davids nie sy boulbeurt voltooi nie en die 1 bal is deur Yusuf Abrahams afgelewer.
Henwico Stal 5-0-10-1 en Lenwill Smart 8-0-31-1 het die ander paaltjies gevat met een uit hardloop.
Telesto Ramblers word met trots geborg deur Jonathan Hills, eienaar van die Telesto Clay Courts te Rooirivierrif. Die klub het ook tydens die wedstryd worsrolletjies verkoop wat geborg is deur Watsons-slaghuis, Safari Braai Products en Unique Funerals George.
Agter, van links is Gerchwin Joseph, Chamille Canarie, kaptein Dean Lewis, Duan Joseph, Quinton Davids, Kurt Botha, Jonathan Hills - borg, Arthur Lottering en Sheldon Melville. Voor: Lenwill Smart, Yusuf Abrahams, Shannan Nomdoe, afrigter Heathwin Joseph, Eltinoh van Rooyen, Bryan Pyler, Fabian Campher en Henwico Stal.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'