Op Van Riebeeckstadion was Mosselbaai Saterdag die gashere vir George.
Die tuisspan het die loot gewen en eerste gekolf. Mosselbaai het van meet af die lopietempo gedruk en teen 'n gemiddeld van 5.34 gekolf. Hoewel daar vroeg 'n paaltjie geval het, het Barry Oosthuizen 72 (7 viere en 2 sesse) en Christo van Schalkwyk 91 (8 viere en 2 sesse) 'n puik vennootskap van 119 lopies om die derde paaltjie gestel.
Wimpie Louw, oud Boland speler, het en met 'n goeie 35 die telling verder vergroot. Mosselbaai het hul 50 beurte uitgekolf en op 265/8 geëindig. George, daarenteen kon die boulaanval van Stefan Terblanche, 2/6 in 5 beurte, en Richard Maree, 4/19 in 8 beurte, nie klop nie. George was voor die koeldrankbreek vir slegs 32 lopies almal terug in die klubhuis. Mosselbaai wen gemaklik met 233 lopies en is steeds onoorwonne na ses T20 wedstryde en drie Premier wedstryde.
NMMU
Die verdedigende kampioene, NMMU het teen Pacaltsdorp gespeel en het 209/7 in hul 50 beurte aangeteken met Neil Hornbuckle 60 en W Blair 52*, wat die beste met die kolf gevaar het. Pacaltsdorp kon slegs 95 lopies aanteken. Kobus Scholtz het 5/16 met die bal geneem. NMMU wen met 114 lopies.
Union Stars
Union Stars het Pirates United van Knysna aangevat. Stars het eerste gekolf en is op 'n Nelson (111) almal uitgehaal.
Dit was egter van korte duur en het Stars vir Pirates vir net 34 lopies uitgehaal om met 77 lopies te wen. Stars se Otniel Baartman het 7/12 geneem.
Sussex
Sussex sukkel en het weer 'n oorwinning deur hul vingers laat glip. Sussex was gasheer vir Harlequins Forces van Oudtshoorn. Harlequins het eerste gekolf en net 96 lopies in 41 beurte behaal. Sussex was daarna almal uit vir 79 in die 21ste beurt. Sussex bevind hulle saam met Thembalethu heel onder aan die punteleer.
In hierdie stryd was G Plaatjies met 4/8 met die bal Sussex se enigste ligpunt, terwyl Riaan Dirks met 4/11 vir Harlequins met die bal beïndruk het.
Blanco
Op Blanco het die tuisspan die loot gewen en eerste gekolf. Die tuisspan kon net 144 almal uit in 39 beurte behaal met R Janssen 33 wat die beste met die kolf gevaar het. Thembalethu is uitgeboul vir net 115. A Mopona, 36* was onoorwonne na die span uitgeboul was. Vir Blanco het Lance Roelfse met 4/22 die beste met die bal gevaar.
Sondag
Sondag was NMMU weer in aksie, die keer weg teen George. George het eerste gekolf en 140 in 49 beurte aangeteken. NMMU het die wenlopies van 142 met 6 paaltjies af verkry en met 4 paaltjies geseëvier. Vir George het Johannes van Niekerk hard gewerk vir sy 52 lopies, terwyl Bronwill Goede 4/22 met die bal vir NMMU geneem het. Vir NMMU het Kobus Scholtz 43 met die kolf aangeteken.
Komende wedstryde
Die naweek gaan die Sedgars Premier Liga interessante krieket oplewer. Saterdag pak die onoorwonne verdedigende kampioene, NMMU, die naaswenner van verlede seisoen, Union Stars, op Oudtshoorn. Union Stars is ook onoorwonne.
Harlequins is gashere vir Thembalethu en George ontvang Sussex. Pirates ontvang Pacaltsorp, terwyl Mosselbaai teen die nuweling, Blanco, op Van Riebeeckstadion speel.
Sondag se groot stryd vind ook op Van Riebeeckstadion plaas, wanneer Mosselbaai vir NMMU ontvang. Beide spanne is steeds onoorwonne.
Puntestand
Huidige puntestand: 1. NMMU – 7 gespeel – 29 punte; 2. Union Stars – 5 gespeel – 22 punte; 3. Mosselbaai – 3 gespeel – 15 punte; 4. Blanco en Pirates United – 3 gespeel – 7 punte; 6. Harlequins en Pacaltsdorp – 5 punte; 8. Thembalethu, Sussex en George lê gelyk onder met 2 punte elk.

In die Sedgars SWD Premier Krieketliga is Mosselbaai steeds onoorwonne na ses T20 wedstryde en drie Premier wedstryde. Foto: Turbo Marx
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Klein Karoo nuus'