Gallery
MOSSELBAAI NUUS - Tydens 'n spogdinee op Vrydag, 11 Mei het die D'Almeida-kriekethub erkenning gegee aan sy krieketspelers wat tydens die 2017/18-seisoen presteer het.
Die geleentheid is bygewoon deur amptenare van SWD-krieket, afgevaardigdes van die onderskeie skole en die spelers se ouers. Die nuut-aangestelde hoofde van Erika Primêr, Denzil van Graan en Hillcrest Hoër, Ivan Kronenberg het hulle leerders kom ondersteun.
Eugene du Plessis, voorheen ook 'n kranige krieketspeler, het die gasspreker, John Cooper voorgestel. Cooper, het Suid-Afrika in die SA skole o/19-span in 1998, die o/21 Proteaspan in 2000 en in 2006 die SA amateurspan verteenwoordig.
Hy het in sy toespraak verwys na een van sy onderwysers by Sao Bras, wyle Willie Beukes, wat hom geïnspireer het met die woorde: Discipline, dedication and determination.
Hy het die spelers ook aangemoedig om op hulle studies te konsentreer. "Jy kan nie vir ewig krieket speel nie, as jy nie meer kan speel nie, moet jy op jou studies kan terugval" aldus Cooper.
Die D'Almeida-hub is 'n inisiatief van Krieket Suid-Afrika om spelers in die agtergeblewe gebiede blootstelling te gee. Die spelers van Ridgeview-, Erika-, Garden Route- en St Blaize RK Primêre Skole asook die plaaslike hoërskole is deel van die hub en maak gebruik van die geriewe by St Blaize.
Van die spelers wat aan die hub behoort, maak ook hulle merk in die provinsiale en streekspanne. Dristan Arends, Lee Scheepers, Ravin-Lee Kemmies, Geon Burns en Jhedli van Briesies is in die SWD-spanne opgeneem.
Ashlee-Ann Meyer is in die SWD 19 jaar en in die senior vrouespan opgeneem. Hier is sy saam met Dirk Lewis van die Mosselbaai-krieketklub.
Jhedli van Briesies het sy kleim afgebaken in die SWD-span met sy 1 000 lopies in die seisoen en is in die visier van die groter unies wat van sy dienste gebruik wil maak.
Die vrouespelers laat ook nie op hulle wag nie. Chani Damons en Ashlee-Ann Meyer is in die SWD 19 jaar en in die senior vrouespan opgeneem.
Lando Olckers het die o/17-span van die Cape Cobras gehaal en Godwin Plaatjies, een van die afrigters is gekies as hoofafrigter van die Wes-Kaap o/14-span.
Die hub het ook erkenning gegee aan Lee Scheepers en Uston Micheals, onderskeidelik junior en senior speler van die seisoen, vir hulle groot bydraes wat hulle gelewer het.
Ander uitblinkers is Chadley Boshoff, Joshua Diamond, Kyle de Jager, Branden-Leë Plaatjies, Tiche Frans, Riisha Fortuin, Meche Jacobs, Ravin-Leë Kemmies, Anwille Groenewald, Elisa Moses, Charles Lincoln en Cashwell London.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'