HARTENBOS NUUS - Die Hartenbos-drawwers het tydens die klub se Comrades-nabetragting verlede Vrydagaand lekker met sop en sjerrie gekuier.
Die klub het Kleintjie van Schalkwyk (62) hartlik gelukgewens - sy hou tans die rekord vir die vrou met die meeste Comrades Marathons agter haar naam.
Van Schalkwyk het al 36 wedlope voltooi en was al op 30-jarige ouderdom die Comrades se jongste vrou met die meeste voltooide wedlope.
Daar is tans 35 mans wat meer wedlope as sy voltooi het, waarvan slegs 16 nog deelneem.
Die vrou in die tweede posisie, Patricia Fisher, het 34 wedlope agter haar naam, maar hardloop nie meer nie. Drie ander vroue staan op 32, wat vir Van Schalkwyk ’n buffer van drie wedlope voor gee.
Van Schalkwyk gaan tydens die Wynland-marathon in Stellenbosch aan haar 150ste marathon deelneem. Met 82 ultras en 149 marathons spog sy met 231 lang wedlope.
Altesaam het sy al 806 wedlope vir drie klubs gehardloop, vandat sy 18 jaar oud was. Dit gee haar 22 950 km op haar voete, ’n gemiddeld van 28 km per wedloop.
Kleintjie van Schalkwyk
Atletiek SWD spog tans met die man en vrou wat die meeste Comrades voltooi het. Louis Massyn (74) van Outeniqua Harriers in George was die eerste persoon wat 50 voltooi het.
Hartenbos-drawwers se Chris Moller het met die klub se kontantprys weggestap. Elke atleet moet voor die wedloop hul eie tyd skat - hy het die naaste daaraan gekom.
Ronelle Moller het haar dubbel groen nommer (8623) verdien, en volgende jaar gaan Christo Prinsloo vir sy groen nommer.
Nuwe lede is ook na dié geleentheid uitgenooi, en die voorsitter, Ferdie Nel, het almal voorgestel en hartlik verwelkom.
Van die 33 nuwe lede is DP Prinsloo ’n vlak 3-wêreldatletiekafrigter en sy vrou, Emile, ’n vlak 5, wat baie vir die klub sal beteken.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’