MOSSELBAAI NUUS - Om jou seun te sien presteer op die sportveld is vir enige ouer 'n ongelooflike eer. Om dit boonop in die internasionale arena te kan beleef, is 'n "absolute hoendervel, trane-in-die-oë-oomblik".
Só voel JL van Rensburg se ouers, Johan en Liezel, na hul seun op 28 Augustus 'n silwermedalje by die Wêreldbyeenkoms vir o.20-atlete in Lima, Peru, in die gewigstoot verower het.
Om met 'n afstand van 20.74m jou stempel internasionaal af te druk, sit nie in enigeen se broek nie.
JL het nie net op sy vorige persoonlike beste poging verbeter nie, maar hy was op die koop toe slegs 2 sentimeter kort van die goue medalje. Dié is deur die Nederlander Jarno van Daalen opgeraap.
Sy ouers se harte bars van trots vir hulle "gentle giant, wat God in al sy besluite ken".
"Hy is 'n mens met goeie leierseienskappe. Hy het goeie waardes en beskik oor baie selfdissipline. JL is iemand wat aan homself doelwitte stel en dan hard werk om dit te bereik. Hy het 'n omgee-hart en sal altyd probeer om te help waar hy kan," sê sy ouers.
JL het vir die eerste keer as 9-jarige Laerskool Park-leerder aan gewigstoot begin deelneem.
"Hy het van die begin taamlik goed presteer. In sy eerste jaar het hy reeds provinsiale kleure verwerf," het hulle vertel.
In graad 8 is hy Oakdale toe en einde graad 9 het hy 'n aanbod gekry om na Hoërskool Noordheuwel in Krugersdorp te gaan."
Johan vertel hy het nie noodwendig teen die idee geskop nie, maar ook nie dadelik ingestem nie.
"As hy my gevra het, het ek net elke keer gesê ek dink nog daaroor, want ja, 'n mens wil mos nie jou kind so ver weg hê nie. Hy was net 15 jaar oud!
"Maart in graad 10 kom hy na my toe en sê ek moet nou vinnig besluit. Anders sal hy atletiek moet los en net rugby speel. Hy het gesê hy kort bietjie afrigting."
Volgens Johan het JL eintlik self die besluit geneem en is hy einde Maart 2021 uit Mosselbaai na die verre Gautengse Krugersdorp.
Hier is hy as hoofseun aangewys vir sy matriekjaar, natuurlik ook 'n bron van trots vir sy ouers hier op Mosselbaai. Dis dan ook in sy matriekjaar waar hy in die span vir o.18- en o.20's opgeneem is om aan die 2023 Afrika-byeenkoms in Zambië deel te neem. Daar het hy goud verower.
Weer het daar 'n aanbod gekom; dié slag van Baylor Universiteit in Texas, Amerika, vertel sy pa.
Voor hy egter daarheen vertrek het, is hy in die span opgeneem wat na Peru sou gaan.
Ofskoon hy eintlik eers in Augustus by die universiteit moes wees, het sy afrigter in Amerika gesê hy moet solank daarheen kom vir voorbereiding. Hy is in Mei vanjaar daarheen.
Sy ouers hoop om hom in Desember moontlik vir so twee weke te kan sien, andersins moontlik volgende jaar in Junie of Julie.
Johan sê om vir JL internasionaal te sien presteer, maak die opofferings en tyd, wat hulle en hý oor die jare ingesit het, absoluut die moeite werd.
"Mens besef dis net die o.20-byeenkoms, maar daai oomblik is rêrig hoendervel-lekker."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’