Video
MOSSELBAAI NUUS EN VIDEO - Plaaslike gewigstoot-atleet, Jady Heyns het by die Wêreld Meesters-atletiekkampioenskap in Finland 'n bronsmedalje met gewigstoot verower.
Jady (50), 'n boorling van die Vrystaat het groot geword op 'n plaas tussen Harrismith en Warden en is die laaste 10 jaar 'n inwoner van George.
Hy het op Dinsdag, 12 Julie, in Heiderand 'n draai gemaak om met die Mossel Bay Advertiser te gesels.
"Gewigstoot is maar in my bloed vanaf ek 'n klein mannetjie was in die Vrystaat waar ek op 'n plaas grootgeword het," vertel Jady.
Hoewel hy nog al die jare die sport beoefen het, het hy na 40-jarige ouderdom en in 2016 as meestersatleet die voorreg gehad het om in Perth, Australië deel te kon neem en het hy 'n silwermedalje gewen.
In 2019 wen hy die nasionale kampioenskappe. Tans is hy steeds die SWD-mans 40, 45 en 50 gewigstoot-rekordhouer.
VIDEO - Suid-Kaap meester bring bronsmedalje huis toe (Video: Jannie du Plessis).
Op 30 Junie bewys hy weer eens dat ouderdom net 'n nommer is. In Finland, in sy ouderdomsgroep kom hy derde met 'n afstand van 15,03m.
"Dis moeilike omstandighede. Ek sê altyd vir die plaaslike atlete dis nie maklik om internasionaal deel te neem nie. Ek het baie geleer," sê hy. Hy vertel verder dat buiten die vele tale, dit teen middernag saans eers donker word en 03:00 kom die son weer op daar in Finland.
"Dit was agt maande se harde werk en ek is baie bevoorreg met my plaaslike borge." "Ek sou graag goud wou terug bring maar die groot probleem het gekom met 'n sportbeserings wat ek in Maart opgedoen het en nou hier geopereer gaan word."
Daarna is dit weer voltyds oefen want Jady se volgende teiken is die Wêreld Meesters-binnenshuise-kampioenskap wat volgende jaar in Toru, Poland gehou word.
Enige sportman se trots om so 'n medalje om die nek te hang. Foto's: Jannie du Plessis
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'