MOSSELBAAI NUUS - Ricardi Matthee (19), ‘n talentvolle T13-visueel gestremde atleet van Mosselbaai, is hard aan die werk om sy droom te bewaarheid om by die Wêreld Spele vir Para-Olimpiese atlete sy deelname te verseker.
Dié byeenkoms vind in Junie in Parys plaas. Dié voormalige Curro-leerder wil alles in die stryd werp om homself op die wêreldverhoog te vestig. Dié byeenkoms is ‘n belangrike stap op sy eie pad om homself op die wêreldverhoog te vestig.
Ricardi, wat tans 'n BA Multimedia studeer aan die Greenside Design Centre in Kaapstad, het reeds die seisoen sy stempel afgedruk op die atletiekbaan.
Op 22 Februarie het hy deelgeneem aan die Wynlande Para Atletiek-byeenkoms. Benewens sy goue medalje in die verspring, het hy silwer in die 100- en 200m losgenael.
'n Paar dae later het hy aan die Atletiek SWD Hoërskole en Senior Kampioenskappe deelgeneem, waar hy ‘n bronsmedalje in die 100m senior mans-afdeling gewen het. Hierdie prestasies onderstreep sy vasberadenheid om sy spoed en tegniek tot op internasionale vlak te slyp.
Finansiële ondersteuning sal egter van groot hulp wees.
Ricardi se familie doen ‘n beroep op enige skenkers, borge of besighede wat belangstel om asseblief die inspirerende atleet te ondersteun.
Indien jy ‘n bydrae wil lewer tot sy pad na Parys, kontak asseblief sy ma, Rika (073 361 0303).
Ricardi het ook ‘n Back-a-Buddy-rekening vir donasies, en enige hulp – groot of klein – sal ‘n reuse verskil maak.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’