Lucas Nonyana van Maxed Elite het die wedloop in 'n baie goeie tyd van 5:20:31 gewen. Die groot verrassing was egter Hartenbos Drawwers se Romé Phillipson-Meyer, wat algeheel 11de geëindig het. Sy en manlief Mario Meyer eindig saam 12de in 'n tyd van 7:44:01. Romé stap ook weg met die prysgeld vir die tweede vrou.
Kleintjie van Schalkwyk (Drawwers), wat die rekord hou vir die vrou wat al die meeste Karoo Marathons voltooi het, eindig algeheel 23ste en is die vyfde algehele vrou. Kleintjie ontvang ook die eerste plek as Meester vrou in 'n tyd van 8:18:33.
Leon van der Merwe (Drawwers) het ook baie sterk klaargemaak en het ook lekker swaar getrek in die hitte in 'n tyd van 10:08:42.
Hartenbos Drawwers begin nou al somme maak om volgende jaar 30 deelnemers daar te hê om te gaan vir die klub met die meeste deelnemers.
Nog 'n baie besonderse prestasie is jong Godwyn Heyns van Mosselbaai Harriers wat die 10km wedloop in 'n baie goeie tyd van 35:03 gewen het. Sy groot droom is om Grudit Visagie se 9-minute rekord met die 3km tydtoets van Hartenbos Drawwers te verbeter.
Addie Voigt (Drawwers), 63 jaar, eindig algeheel agtste en kry ook die prys vir eerste Grootmeester in 'n tyd van 52:06.
Cyril Sheen (Drawwers), onderwyser van Diaz Primêr, eindig as die tweede meester tydens die 21km in 'n tyd van 2:01:32.
Drawwers wil ook net vir Petro Buys van Laingsburg Munisipaliteit en haar mense gelukwens met die puik wedloop. Atlete het baie goeie prysgeld ontvang, asook T-hemde, kwaliteit trofeë, heerlike Karoo-lam om te eet tydens Saterdagaand se prysuitdeling en 'n baie lekker fees Vrydagaand tydens die inskrywings.
Hartenbos Drawwers beplan om volgende jaar 'n gedenksteen by Liedge Boulle se graf in Laingsburg te gaan opsit. Hy sou vanjaar 105 jaar oud gewees het. Van die Drawwers was die laaste persone tydens die Karoo Marathon wat hom by sy huis besoek het voor hy in 1998 oorlede is. Volgende week sal daar 'n artikel geplaas word oor wie en wat Liedge Boulle was.

Cyril Sheen, Godwyn Heyns en Addie Voigt met hulle trofeë.
'Ons bring jou die nuutste Hartenbos, Tuinroete nuus'