TUINROETE NUUS - Na byna twee jaar van Covid-19-onderbrekings hoop Eden Tweekamp om 2022 op 'n positiewe noot te begin en om 'n vol program vir die tweekampatlete aan te bied.
Die seisoen skop op Dinsdag, 25 Januarie af met die Eden-proewebyeenkoms vir die kies van die spanne (meriete en ontwikkeling) wat op 5 Februarie aan die Highgate interprovinsiale byeenkoms op Oudtshoorn gaan deelneem.
Daarna volg nie minder nie as nog drie ligabyeenkomste op onderskeidelik George, Mosselbaai en Oudtshoorn.
Die gewilde Wimpy Doubles-byeenkoms vind op 1 Februarie plaas en op 9 Februarie is daar 'n ontwikkelingskliniek op Riversdal.
Die Eden-kampioenskap vind op 1 Maart plaas. Tydens laasgenoemde word die Edenspan gekies wat op 1 en 2 April in Port Elizabeth aan die SA Kampioenskappe gaan deelneem.
Tweekamp in Suid-Afrika (en dus ook Eden) betree 'n nuwe tydvak deurdat daar nuwe, verkorte afstande is en ook ouderdomsaanpassings om in te skakel by die internasionale tendense. Dit sal ook behels dat byeenkomste nou korter van duur sal wees.
Alle atlete - vanaf 7 jaar tot 80+ - is welkom om deel te neem. Tweekamp is by uitstek 'n gesinsport - daar is vir elkeen 'n plekkie. Eden Tweekamp maak ook voorsiening vir gestremde persone wat wil deelneem.
Tweekamp bestaan uit twee komponente - hardloop (400m en 800m) en swem (25m - 100m). Vir elke komponent kry die atleet 'n punt vir hul tyd en word die twee punte saamgetel vir die totaal. Vir die meer senior atlete is daar ook bonuspunte gekoppel aan hulle ouderdom.
Besoek Eden Tweekamp se webtuiste www.edenbiathlon.co.za of die Facebook-blad vir meer inligting of kontak die operasionele bestuurder, Dave van der Walt, (082 7734 901).
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'