TUINROETE NUUS - Eden Tweekamp is besig om sy vere reg te skud vir ‘n baie besige seisoen – hulle bied nie slegs die Highgate Interpovisiaal (7 provinsies) op 1 Februarie aan nie, maar ook die 45ste Sportsman Warehouse SA Kampioenskappe (14 provinsies) op 20 en 21 Maart 2020. Dit is die derde SA Kampioenskappe wat Eden (voorheen SWD) aanbied.
Beide die byeenkomste word op Oudtshoorn aangebied by die Oudtshoorn munisiplaiteit se fasiliteite.
Eden Tweekampvereniging was ook aangewys as die Eden Sportraad se Sportfederasie vir 2019 en was hulle ook ‘n finalis as Weskaapse Sportfederasie vir 2019.
Tydens die SA Kampioenskappe, word ook die SA Tweekamp Mini Museum geopen op HIGHGATE. Met ondersteuning van Johan Keller het die droom na jare werklikheid geword. SA Tweekamp is sekerlik een van die min sportsoorte in die land wat staan op 47 ononderbroke SA Kampioenskappe – voorwaar ‘n suksesverhaal om te hoor.
Tweekamp bestaan uit swembadswem (25m, 50m of 100m) en baanhardloop (400m tot 1600m). By Tweekamp word die tyd behaal in beide die swem en hardloop in punte omskakel - d.m.v. ‘n gestandaardiseerde puntetabel - en dan bymekaar getel vir die totaal.
Vanaf die junior veterane word bonuspunte bygereken vir elke jaar wat die atleet ouer is as die aanvangsdatum in daardie ouderdomsgroep.
2000 punte word beskou as ‘n billike punt om in aanmerking vir ‘n provinsiale span te kom (5 per ouderdomsgroep), maar die finale besluit word deur die keurkomitee geneem.
Die ouderdomsgroepe is as volg: 0/8, 0/9, 0/11, 0/13, 0/15, 0/17, 0/19, Senior of Ope (enige ouderdom), Junior Veterane (27-39jr), Veterane (40-49jr), Senior Veterane (50-59jr), Meesters (60-69jr) en Senior Meesters (70+).
Die SA Kampioenskappe maak voorsiening vanaf 0/9.
Die amptelike seisoen strek vanaf September tot April en die ouderdomsgroep word as volg bepaal: die ouderdom wat die atleet op 31 Augustus van die vorige jaar is, bepaal sy deelname-ouderdomsgroep vir die res van die seisoen.
In die Eden-streek word verskeie byeenkomste elke seisoen aangebied - ligabyeenkomste (5), ontwikkelingsklinieke (2), kapasiteitsontwikkelingswerkswinkels, asook ten minste 2 interprovinsiale byeenkomste. Die byeenkomste roteer tussen George, Oudtshoorn en Mosselbaai.
Die kleredrag vir ligabyeenkomste is die skool of klub se amptelike atletiek- en swemdrag. Provinsiale klere word net vir provinsiale geleenthede gebruik. Skole/klubs en atlete registreer en lisensieer reeds by die eerste byeenkoms in Oktober van elke jaar.
Daar is ook tans ‘n skoleliga ingebou waar die twee beste laer-en hoërskole kan deurdring na die interprovinsiale en nasionale byeenkomste. In 2018 was Hoërskool Outeniqua gekroon as die beste tweekampskool in die land.
Die Highgate Volstruisvertoonplaas is die amptelike borg van Eden Tweekamp en die tradisionele Highgate Interprovinsiaal waar 7 provinsies deelneem, word as die DCAS/Highgate Groter Oudtshoorn Interprovinsiale Tweekampbyeenkoms op 1 Februarie 2020 op Oudtshoorn aangebied.
Die Eden Proewebyeenkoms vind op Dinsdag 21 Januarie 2020 op Oudtshoorn plaas waar die Eden-spanne gekies word.
PROGRAM
28 Januarie - Wimpy Eden “Doubles”-byeenkoms (Oudsthoorn) 17:00.
1 Februarie - Highgate Interprovinsiale Tweekamp (Oudsthoorn) 07:00.
5 Februarie - Ontwikkelingsbyeenkoms/kliniek (Bridgton | Oudsthoorn)16:00
11 Februarie - Eden Liga 1 (Mosselbaai) 17:00
18 Februarie - Eden Liga 2 (George) 17:00
25 Februarie - Eden Liga 3 (Oudsthoorn) 17:00
3 Maart - Highgate Eden Tweekamp Kampioenskappe (Oudsthoorn) 17:00
20 Maart - School Closes
20/21Maart-SA Kampioenskappe (Oudtshoorn)
Belangrik
• Elke skool/klub moet ten minste een beampte by elke ligabyeenkoms verskaf;
• Atlete moet in hulle amptelike skool/klub sportdrag deelneem;
• Alle inskrywings moet op die laaste die Maandag voor die byeenkoms op die amptelike vorm gedoen word – geen inskrywings by die baan nie.
• Om in aanmerking te kom vir die SA kampioenskappe, moet ‘n atleet aan die Eden kampioenskappe en 3 liga-byeenkomste (waarvan 1 ‘n proewebyeenkoms mag wees) deelneem gedurende die seisoen. Die keurders het egter die finale sê in die samestelling van die span.
Vir enige navrae, kan Dave van der Walt by 082 773 4901 gekontak word.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'