Update
HARTENBOS NUUS - Te oordeel aan die Hartenbos Drawwers se vrolike gekuier op die afgelope Saterdag tydens hulle jaarlikse goodie bag-funksie ter voorbereiding van die Comrades-marathon, sou mens verkeerdelik dink dat dit 'n wedloop is wat sommerso lag-lag kafgedraf word.
Vanjaar neem 26 lede van die klub deel, waaronder twee groentjies of novices soos die klub hulle noem, wat die marathon vir die eerste keer sal aanpak.
Tydens die opening, waargeneem deur klublid Theo Otto, het hy gesê om die Comrades te hardloop van kleinsaf vir hom 'n droom was. Otto hardloop vanjaar vir die derde keer en het getuig hoe 'n kniebesering wat sy drawwery sou belemmer het, deur God genees is. "Die boodskap wat ek veral met die novices wil deel is, die Here sal julle nie drop nie."
Van asma genees
Gasspreker Peter Veysie, 'n Springbok-atleet en tans predikant op George het die klublede kort-kort aan die lag gehad met sy vertellings en die energieke aanbieding van sy praatjie, maar het ook 'n sterk geestelike boodskap oorgedra. Veysie, wat as kind aan erge asma gely het, het op aandrang van sy oom begin draf. Hy het getuig dat hy sedert 1987 vry van asma is. Veysie het nuttige brokkies inligting uit sy rype ervaring as marathonatleet met die klub gedeel.
"Gebruik hulle nog sponse? Wel, 'n spons was al baie keer my beste vriend tydens die Comrades. As jy nie 'n spons het nie, maar seker jy het iets om te squeeze as dit begin moeilik gaan tydens die wedloop."
Hy het deelnemers aangeraai om sommer 'n swartsak saam te neem teen die oggendkoue vóór die wegspring. "Wees maar bewus wat die verkeersknope," het hy veral aan die ondersteuners gesê. Hy het ook gewaarsku dat deelnemers nie moet val vir al die foefies en nuwighede wat by die ekspo uitgestal word nie. "Stick to what you trust and know," was sy woorde.
Veysie het redelik tegnies uitgebrei oor die tye waarop deelnemers mik en verduidelik hoe hulle dit moet bereken en hulleself daarby moet aanpas. "Die belangrikste is om te onthou om nooit tou op te gooi nie."
Met 'n vertelling van hoe onbekendes hom tydens 'n wedloop aangemoedig het om deur te druk toe hy besonder swaargekry het, het hy aangedui dat die Comrades se naam beteken dat almal sáám in die wedloop is, met al sy fasette, ook die harde bene kou.
Opdraandes
Sy raad vir opdraandes, waarvan daar volgens hom baie is, is om die handrem los te maak en af te kyk na die padopppervlak. "From that perspective, everything is flat and then the hills don't matter so much."
Hy het die deelnemers aan die belangrikheid van kos herinner en vertel hoe hy tydens een wedloop deur 'n "onbekende Afrikaanse boer" 'n aartappel en 'n bier ingejaag is sodat hy net weer kon koers kry.
Die deelnemers en ander gaste het hoorbaar na hulle asems gesnak toe Veysie uitwys, dat om 'n silwermedalje in die marathon te verower, beteken dat die drawwer 'n kilometer in 5 minute moet kan voltooi.
"Moenie jou krag as 'n ondersteuner onderskat nie en deelnemers, onthou om te glimlag soos jy hardloop. Daar is dalk mense rondom jou wat jou nodig het in daardie stadium van hulle wedloop. Hou mekaar sterk."
Daar is vanjaar drie getroude pare in die klub wat die marathon saam aanpak.
Helena Jonker, 'n lid van die klub het vir 'n tweede agtereenvolgende jaar die goodie bag-funksie gereël. Sy het 'n anonieme borg bedank vir die groot bydrae gelewer.
Die kostelike en inspirerende Peter Veysie het sy nuttigste wenke met die deelnemers gedeel.Foto: Cornelle Carstens
Rekordmakers Kathy Cillie (tweede van regs) en Louise Vorster (middel) hardloop onderskeidelik hulle 10de en 20ste Comrades. Saam met hulle is Helena Jonker (links), die klubvoorsitter Johan Viljoen (tweede van links) en gasspreker Peter Veysie (regs).
Lees 'n vorige artikel hier: Drawwers gereed vir die grote
'Ons bring jou die nuutste Hartenbos, Tuinroete nuus'