MOSSELBAAI NUUS - Esmé Alberts het in die Mosselbaai-gemeenskap bekend geword vir haar suksesvolle plaaslike onderneming, haar goedhartigheid en haar passie vir gemeenskapswerk. Sy is as hierdie week se 'Ons Mens' genomineer.
Vertel ons 'n bietjie van jouself - wie is jy en wat doen jy?
Ek is Esmé Alberts, 'n vrou, ma, ouma, vriendin en trotse hondemamma.
Ek is mede-eienaar en direkteur van Absolut Security, en is nou ook betrokke by Absolut Hope 365, 'n inisiatief wat daarop gemik is om hoop, omgee en praktiese ondersteuning aan mense in nood te bied.
Hoe lank woon jy al in die Mosselbaai-omgewing?
Ons woon nou al vyf jaar permanent hier, maar ons verhouding met hierdie besondere plek strek oor meer as 30 jaar. Ons het jare lank hier kom vakansie hou, en die dorp het mettertyd 'n baie spesiale plekkie in ons harte gekry.
Wat aanvanklik 'n vakansiebestemming was, het uiteindelik ons tuiste geword.
Wat is jou gunstelingding van Mosselbaai?
Vir my is dit die gemeenskapsgevoel wat Mosselbaai spesiaal maak. Dit is 'n dorp waar mense steeds hande kan vat, mekaar ondersteun en saam dinge kan vermag.
Ek geniet die dorp se energie, die verskeidenheid gemeenskapsgeleenthede en die ongelooflike mense wat bereid is om hul tyd en talente te gee om 'n verskil te maak.
Wat doen jy graag in jou vrye tyd?
Ek geniet dit baie om gehaltetyd saam met my familie deur te bring, want hulle is my veilige hawe en my grootste bron van vreugde. Maar ek moet erken, ek is beslis 'n besige bytjie!
Ek hou daarvan om nuwe idees te ontwikkel, projekte aan die gang te kry en liefdadigheidsgeleenthede, fondsinsamelings en gholfdae te beplan en te organiseer.
Wat is iets wat mense dalk nie van jou weet nie?
Al lyk ek soos 'n sosiale vlinder, is ek eintlik nogal skaam om voor groepe mense te praat. Ek is eerder 'n doener as 'n prater, maar ek leer om my stem met meer selfvertroue te gebruik.
Wie of wat het die grootste invloed op jou lewe gehad?
My man se ondersteuning, liefde en rustige perspektief op die lewe beteken vir my ongelooflik baie. Hy is dikwels die een wat kalmte bring wanneer ek met duisend idees en planne vorendag kom!
My twee kinders is ook 'n groot bron van inspirasie en vreugde in my lewe.
Waarop is jy die trotsste in jou lewe?
Ek is trots daarop dat ek myself die geleentheid gegee het om te groei, nuwe uitdagings aan te pak en te bewys dat dit nooit te laat is om iets nuuts te begin nie.
Ek is vanjaar as die South African Council of Business Women (SACBW) se National Businesswoman of 2026 en Brand Ambassador aangewys, waarop ek baie trots is.
Wat wil jy nog graag bereik of doen?
Ek wil graag verder studeer en aanhou ontwikkel, nie net professioneel nie, maar ook as mens en leier. Ek glo dat ons nooit ophou leer nie en dat daar altyd ruimte is om te verbeter.
As jy enige persoon vir koffie kon nooi, wie sou dit wees en hoekom?
Helen Zille is beslis iemand wat ek baie graag vir koffie (of wyn!) sou wou nooi. Ek bewonder haar energie, deursettingsvermoë, sterk persoonlikheid en die manier waarop sy uitdagings aanpak.
Wat is een ding wat jy graag vir die mense van Mosselbaai wil sê?
My boodskap aan Mosselbaai is dat ons nooit moet onderskat wat ons saam kan bereik nie.
Kom ons ondersteun plaaslike ondernemings, staan mekaar by, help waar ons kan en reik uit na mense rondom ons wat dalk deur moeilike tye gaan.
Ons hoef nie altyd te wag vir iemand anders om 'n verskil te maak nie.
Nomineer ons volgende 'Ons Mens'
Wil jy iemand vir hierdie weeklikse rubriek nomineer? Dit kan enigiemand in die Mosselbaai-omgewing wees wat volgens jou 'n positiewe verskil in ons gemeenskap maak. Stuur jou nominasie na [email protected] of WhatsApp dit na 072 729 7121.
Sluit asseblief die volgende in: die naam van die persoon wat jy nomineer; die rede vir jou nominasie; jou kontakbesonderhede; en die genomineerde se kontakbesonderhede. Wie weet - dalk is jou plaaslike held ons volgende Ons Mens!
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’