MOSSELBAAI NUUS - Die Midbrak-bewarea het onlangs sy nuutverkose uitvoerende komitee aangewys en is gereed om 'n hele aantal nuwe projekte in die gebied aan te pak.
Die komitee bestaan uit Anthony Campher as voorsitter, Wendy Wiles as ondervoorsitter, Melville Munro as tesourier en Madelein Campher as sekretaresse.
Campher sê een van die bewarea se jongste projekte is die treffende muurskildery wat onlangs deur 'n groep toegewyde vrywilligers by die ingang na Fraaiuitsig geskep is.
"Die kunswerk verfraai nie net die omgewing nie, maar skep ook bewustheid van die belangrikheid van bewaring en die rol wat elke inwoner daarin kan speel," sê hy.
Die bewarea het strategiese doelwitte en kernprioriteite geïdentifiseer, waaronder opvoeding en bewusmaking, groter deelname deur inwoners en volgehoue ledetalgroei.
"Deur inwoners beter oor plaaslike bewaringskwessies in te lig en meer geleenthede vir betrokkenheid te skep, wil die bewarea 'n sigbare en blywende verskil in die gemeenskap maak."
Een van die bewarea se jongste projekte is die muurskildery wat onlangs deur ’n groep vrywilligers by die ingang na Fraaiuitsig geskep is. Foto: Chelsea Pieterse
Campher beklemtoon egter dat hierdie doelwitte nie sonder aktiewe deelname en voldoende finansiële ondersteuning bereik kan word nie.
"'n Groeiende ledetal bied nie net 'n sterker finansiële grondslag vir projekte nie, maar gee die bewarea ook 'n sterker stem wanneer kwessies wat ons natuurlike omgewing en gemeenskap raak, bespreek word.
"Die uitvoerende komitee doen daarom 'n beroep op inwoners, plaaslike ondernemings en vriende van die omgewing om by die Midbrak-bewarea aan te sluit, aan sy aktiwiteite deel te neem en sy projekte deur lidmaatskap of donasies te ondersteun. Elke bydrae, hetsy in die vorm van tyd, kundigheid, deelname of finansiële ondersteuning, help om 'n sigbare verskil te maak en ons natuurlike erfenis vir toekomstige geslagte te beskerm," sê Campher.
Belangstellendes wat by die bewarea wil aansluit, kan die Facebook-groep, Midbrak Conservancy/Bewarea, besoek, op die 'About'-afdeling klik en die lidmaatskapvorm voltooi.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’