GROOT-BRAKRIVIER NUUS - Groot-Brakrivier Primêr se sporthoof, Marquin Smart, kon verlede week met trots toekennings aan leerders oorhandig vir hul prestasies en toewyding aan rugby dié jaar.
Hierdie besondere toekennings, waaronder trofeë vir spelers van die jaar, asook water en plakkers, elk verpersoonlik met die spelers en afrigters se name daarop, is deur 'n voormalige leerder, Deo Gelderbloem, en sy ouers geskenk.
Die skool het ook 'n pragtige bruin bal met al die o. 13-rugbyspelers se name in goud daarop ontvang.
"Deo het 'n liefde vir rugby en dit loop in hul bloedlyn!" sê die skool. Hy het verlede jaar die o. 12- SWD-span gehaal en wou sy maats aanmoedig om hul liefde vir rugby uit te leef.
Hy is nou o. 13 en 'n Laerskool Outeniqua-leerder, en het ook dié jaar die SWD-span gehaal.
"Ons skool is baie dankbaar teenoor die Gelderbloems, en wees verseker, 'n hand wat gee sal dubbeld terug ontvang!"
Dorian Olivier is as die o. 13's se speler van die jaar aangewys en daarna ook as die algehele speler van die jaar. Hy is vanjaar as deel van die o. 12- SWD-span gekies.
Die skoolhoof, D.G. Rhoode, is ook vir sy bydrae tot die skool se rugby bedank.
Die skool sê sy leerders het die toekennings opgewonde ontvang en was opreg dankbaar daarvoor.
"Die geleentheid het as groot inspirasie gedien om voort te gaan om uitnemendheid op en van die veld af na te streef. Met dié toekennings is harde werk, spanwerk en liefde vir rugby deur die jaar gevier!"
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’