OPINIE - Baie mense wonder wanneer dit die beste tyd is om af te tree.
Dis 'n vraag wat baie mense van ons era, ongeag beroep, vra. Meer intens dalk: Wanneer gaan jy begin beplan, of het jy al begin?
'n Tydjie gelede gesels ek met iemand, en hy sê: "Ek was onlangs so ontnugter toe familie my vra om te help met die begrafnisreëlings van een van ons familielede, net vir my om te ontdek daar is nie fondse om die koste van die begrafnis te dek nie!"
Dit was ook nie die eerste keer wat ek van so iets te hore gekom het nie.
Ongelukkig gebeur dit dikwels dat mense nie eers voorsiening gemaak het vir hul eie begrafnis nie. Vir baie mense is aftrede en afsterf mos net fiksie, want dit lê nog ver in die toekoms, en buitendien is daar nie nou tyd of geld om daaraan aandag te skenk nie.
Met aftrede bestaan daar ten minste 'n datum wat redelik vas is, maar afsterwe is mos nie in ons beheer nie, en ons het geen datum om op te werk nie.
Daarom moet ons leef asof ons dalk môre mag sterf en beplan asof ons 100 jaar oud gaan word!
My eie ouers, veral my ma, het nogal tot 'n groot mate hulle leefwyse volgens hierdie beginsel ingerig. Ek het dit by hulle gesien, gehoor en beleef, maar ek het dit nie in my jong dae deel van my eie lewenswyse gemaak nie.
Ek het kennis geneem dat daar so 'n teorie is, maar môre is mos nog 'n dag.
Ek dink tot 'n groot mate het ek die gevoel gehad dat ek mos nog onder hulle sambreel is. Hulle is mos verantwoordelik vir my en dink namens my aan hierdie dinge, was die gedagtes wat in my kop was.
Die eerste harde realiteit tref my gedurende my tweede jaar as student op die kampus toe my motor oornag gesteel word. Ek het dit dan gister nog sélf daar geparkeer en toegesluit - nou is daar niks, net die wielspore. Wat nou?
Genadiglik het my ouers gesorg dat die versekering in plek is, en die skade kon herstel word. Dié insident het meegebring dat ek kennis gemaak het met die werklike lewe. Nodeloos om te sê was versekering op eiendom en waardevolle items nie meer onderhandelbaar nie.
Aftrede en beplanning vir aftrede was egter op daardie tydstip steeds 'n gedagte vir die toekoms, want ek moet net die goed wat ek besit verseker sodat ek weer kan kry wat ek nou het.
Gedurende Julie 1980 stap 'n makelaar van Ou Mutual by my kantoor in en vertel my van polisse en die noodsaaklikheid daarvan. Ek teken uit my swaar-verdiende soldy as nasionale-dienspligkapelaan in die SA-weermag by 1 Valskermbataljon in Tempe, Bloemfontein, vir 'n R10-per-maand-polis. Ek was so ongelooflik trots daarop dat ek nou ook kon assosieer met die groep mense wat polisse het!
Tog het die erns en werlikheid van aftrede nog nie tot my denke deurgedring nie, want dit was nog ver en daar was nog baie tyd. Ten minste het ek nou 'n polis gehad waarteen ek selfs geld by die bank kon leen as ek 'n nuwe motor wou koop.
As ek vandág Julie 1980 kon oorhê, sou ek verseker 'n ander besluit geneem het met die oog op aftrede, want dit kom gouer as wat 'n mens kan dink!
Kom ek antwoord nou die vraag op die tafel. Wanneer is die beste tyd vir aftreebeplanning? So gou as moontlik!
As jy dit nog nie gedoen het nie, ongeag jou ouderdom, as jy steeds in die arbeidsmag is, doen dit vandag nog! Hoe gouer, hoe beter.
Aftreebeplanning moet begin die dag as jy jou eerste salaris ontvang en nie eers met die tweede een nie. Wat dit betref is dit nooit te vroeg nie, maar daar kan dalk later van tyd 'n 'te laat' wees...
*Christo Maree het op 60 as kapelaan van die Suid-Afrikaanse Polisiedienste afgetree en in Desember 2023 sy emeritaat as leraar uit die Bybelgenootskap aanvaar. Daarna het hy hom in Hartenbos kom vestig waar hy steeds aktief sy bediening uitleef.
Disclaimer: The opinions expressed in this article are those of the author. They do not purport to reflect the opinions or views of Group Editors and its publications.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’