OPINIE - Juniemaand is beter bekend as bewust- heidsmaand vir mans se geestesgesond-heid.
Hierdie bewusmakingsveldtog fokus op die sielkundige welstand van mans en seuns.
In die verlede was daar sosiale verwagtinge dat mans "sterk" moet wees en nie hul emosies mag beeld nie. Die mans wat nie daaraan voldoen het nie, was dikwels as swakkelinge beskou.
Die SAUK Nuus berig dat die huidige statistieke vir selfdood onder mans in Suid-Afrika ontstellend hoog is.
Die data toon dat 80% van alle selfdoodgevalle mans is.
Daar word beraam dat ten minste 23 mense in Suid-Afrika per dag hulle eie lewe neem. As die nasionale verhouding toegepas word, beteken dit dat sowat 18 tot 19 mans daagliks weens selfdood sterf. Met sulke skokkende statistieke kan ons saamstem dat ons nog steeds (metafories) in die verlede bly.
Alhoewel daar bewusmakingsveldtogte is, faal ons mans se geestesgesondheid. Dit gaan meer vereis as "uitdagings" en sprokiesmooi plasings op sosiale media. Dit begin by 'n eenvoudige interaksie met jou medemens.
Hetsy dit jou buurman is of die oom wat altyd by die winkel staan. Die seun wat nie meer skooldraf nie. Die dwelmverslaafde wat elke dag verby jou loop. Jy sien wat ek bedoel. Spandeer 'n minuut of twee en observeer die mense rondom jou.
Dit hoef nie 'n terapeutiese benadering te wees nie. Somtyds is die dade wat ons vir ander doen nie so groot van ons perspektief af nie, maar dit sal altyd 'n onvergeetlike ervaring vir ander wees. Dit kan niks vir ons beteken nie, maar die wêreld of meer vir iemand anders. Ons moet leer om meer vriendelik met mekaar te wees.
'n Mens besef nie aldag in watter omstandighede ander mense hulle bevind nie. Agter die masker van "Ek is oukei" is iemand wat veilig wil voel sonder om sy waardigheid te verloor.
Iemand wat hoop dat hy die volgende keer wat hy "Ek is oukei" uiter, dit werklik kan bedoel.
Disclaimer: The opinions expressed in this article are those of the author. They do not purport to reflect the opinions or views of Group Editors and its publications.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’