MOSSELBAAI NUUS - "Raadslede spandeer duisende rande om te gaan toer terwyl gemeenskap, in D'Almeida en talle ander dele van die dorp, steeds nie binne-toilette het nie."
Icosa se streekleier in die Wes-Kaap, Dawid Kamfer het 'n persverklaring uitgereik na afloop van 'n spesiale raadsvergadering op Dinsdag, 20 Oktober waar hy klarigheid probeer kry het oor wie die rekening vereffen vir DA-raadslede wat tans op 'n amptelike buitelandse besoek na Indonesië is.
"Toe ek op die spesiale raadsvergadering vra wie betaal vir die uitgawes van die vier raadslede en die munisipale bestuurder, was die antwoord duidelik aan my gestel - op 'n laggende noot - dat die raadslede self betaal vir die toer, My vraag is dus; as hulle dan self betaal het, hoekom verteenwoordig hulle dan die raad en hoekom het hulle die raad se toestemming nodig gehad vir die reis?
Van die raadslede was verlede jaar ook (op eie koste) op dieselfde besoek gewees.
Krediet beleid en tenders pla Icosa
"In 'n gesprek vandeesweek met die direkteur van finansies het ek my bekommernis oor twee belangrike aspekte gedeel, items wat 'n groot bron van kommers is," sê Kamfer.
"Ek is bekommerd oor die kredietbeleid wat deur debtpack misbruik word, aangesien hulle houding mense afskrik, en mense gedwing word om 'n hoë premie te betaal wanneer hulle agtestallig is. Dié maatskappy, wat vir jare reeds vir inwoners 'n kopseer is, is vir 'n verdere vyf jaar aangestel.
"In my gesprek het ek dit baie duidelik gestel; die gemeenskap is nie ongewillig om te betaal nie, maar om elke keer 55% te vat wanneer mense gaan krag koop is onregverdig, veral terwyl ander krag steel.
"As raadslid wat deur die mense verkies is om namens hulle te praat, mag ek nie stil sit en toekyk hoe ons mense verarm word nie. Ek het die direkteur versoek om die beleid ter hersien sodat die arm mense meer geld in hul sak kan steek, want dit wil voorkom asof die huidige beleid mense verarm.
Kamfer het hom ook sterk uitgespreek oor die toekenning van munisipale tenders. Hy meen die groot tenders word steeds slegs aan die bevoorregtes toegeken.
"Hoe kan dit wees dat bruin en swart mense steeds net goed genoeg is om paaie skoon te maak, terwyl 'n sekere groepie mense die rykdom van die dorp proe?
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'