MOSSELBAAI NUUS - Die eerste vroulike speaker van die Mosselbaai munisipale raad, raadsdame Venolea Fortuin is op 22 Januarie verkies as die nuwe voorsitter van die Demokratiese Alliansie se Oosstreek.
Die streek se geografiese gebied sluit die omgewing van Theewaterskloof tot by Bitou in, asook 'n noordelike deel tot in die Karoo, naamlik Beaufort-Wes.
Die posisie is voorheen deur Tertuis Simmers beklee. Hy dien tans as die adjunk-leier van die DA in die Wes-Kaap.
Met haar verkiesing tot Oosstreek-voorsitter is sy slegs die tweede vrou wat hierdie leiersposisie vir die DA in die Oosstreek vul.
Tydens haar toespraak het sy uitgestip dat die DA onder haar leierskap opnuut sy fokus op diegene op voetsoolvlak sal verskerp om tussen die mense te werk. Sy het ook uitgewys dat sigbaarheid van raadslede binne hulle gemeenskappe kernbelangrik is.
Fortuin is reeds 22 jaar lank 'n lid van die DA.
Die verkiesing het in Stilbaai tydens 'n kongres van die Oosstreek plaasgevind.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'