TUINROETE NEWS - Die Tuinroete streek van Suid-Afrika is die tuiste van 104 verskillende avontuur toerisme produkte met meer as 600 produk eienaars.
Tydens die 26ste Moscow International Travel and Tourism Exhibition (12 tot 14 Maart 2019) het Adventures Garden Route (Destination Marketing Company) die geleentheid gehad om deel te vorm van die Suid–Afrikaanse platform, moontlik gemaak deur die Department van Nasionale Toerisme.
Mitt is die grootste besigheid-tot-besigheid reis en toerisme uitstalling in Rusland.
In totaal het 1799 ondernemings in toerisme en reis uitgestal, afkomstig van 80 streke in Rusland en 239 ander lande en streke.
‘n Totaal van 22 777 reis en toerisme verteenwoordigers het die geleentheid besoek. Die sewe lokale wat gebruik is het 40 000 vkm beslaan.
Mimi Finestone skryf:
Die belangstelling in die Tuinroete het al ons verwagtinge oorskry. Die Tuinroete is ‘n aanloklike nuwe bestemming wat werklike waarde vir geld inhou en ook besondere aantreklikheid het vanweë die wye verskeidenheid aktiwiteite wat die streek bied. Moskow is nie ‘n goedkoop stad nie en self met ‘n wisselkoers van 4.5 Rubel vir die Rand, is alles maar relatief duur. Dit is egter ‘n geleentheid wat deur die Tuinroete benut kan word.
Die Tuinroete moet altyd streef om waarde vir geld te bied en nie probeer om die wedren vir die goedkoopste bestemming te wen nie. Hoewel die Russiese mark ‘n waardevolle mark blyk te wees vir toekomstige toerisme in die Tuinroete, is reeds tydens die uitstalling konkrete ooreenkomste gesluit met rolspelers in die industrie om die Tuinroete in 2019 te besoek. Hierdie ooreenkomste sluit in media huise, toeroperateurs en persone uit die toerisme industrie.
Daar is groot belangstelling van studente en jong mense om die Tuinroete te ervaar en ook om praktiese werk in die streek te verrig as deel van hul formele studies.
Uit gesprekke met die toerisme industrie het dit duidelik geblyk dat veiligheid van toeriste, kwaliteit van ervaringe, stabiliteit van ondernemings en waarde vir geld, hoofoorweginge in die besluit is om die Tuinroete te besoek.
Voorsiening sal ook gemaak moet word vir die Russiese taal wat toeriste kan verhoed om die Tuinroete te besoek.
Die ervaring was baie positief rakende die gebruik van Engels onder die jonger geslag in Rusland.
Die sukses van die Tuinroete se uitstalling by Mitt Moscow kan grootliks toegeskryf word aan die wye verskeidenheid van avontuur produkte wat aangebied was. ‘n Totaal van 64 avontuur produkte is direk bemark en ‘n verdere 40 indirek. Die Tuinroete was werklik bemark as ‘n voorkeur bestemming vir avontuur toerisme en ons voorsien ‘n toename van Russiese toeriste aan die Tuinroete streek in die afsienbare toekoms.
Daar word beplan om ‘n plan van stapel te stuur in 2019 om Russiese avontuur toerisme studente na die Tuinroete te bring vir praktiese ondervinding in die avontuur toerisme industrie en om sodoende ambassadeurs vir die streek te ontwikkel. Die Tuinroete is in ‘n baie gunstige posisie om die Russiese toerisme mark te ontgin vir die toekoms.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'