ABU DHABI - ’n Voormalige Mosselbaaier, Simone Wentzel (33), wat in 2010 aan Hoërskool Punt gematrikuleer het, bevind haar tans midde-in toenemende spanning in die Verenigde Arabiese Emirate.
Sy en haar seun is sedert November verlede jaar in Abu Dhabi, waar haar man, Dewald (37) reeds van verlede jaar af werk. Die gesin woon tussen Abu Dhabi en Dubai.
“Ons is in ’n rustige area, maar omtrent 30-minute van ons af is een van die Amerikaanse basisse,” vertel sy.
Simone sê hulle het gistermiddag Abu Dhabi toe gery.
“Ons het pas uit ’n winkel gekom toe ons ’n verskriklike slag hoor. Dit het geklink soos iets wat ontplof. Ons hoor die gerugte van oorlog, maar jy dink altyd, wat is die kans dat dit regtig hier gaan gebeur?”
Volgens haar was die slag na bewering die gevolg van ’n missiel wat afgeskiet is.
Martin Coetser. Foto: verskaf
By die huis het hulle later ook die missiele in die lug gesien.
“Dit klink soos ’n vliegtuig wat laag vlieg – ’n dreunende geluid, dan hoor jy ’n fluit en skielik raak dit doodstil. Net daarna vibreer die grond. Dit is die hardste slae wat jy hoor.”
Teen gistermiddag, sê sy, is agt missiele wat hulle gesin kon hoor, glo na die Amerikaanse basis geskiet.
“Die slae was ongelooflik hard. Die vensters dreun en jy sien rook in die lug. Dit is regtig vreesaanjaend.”
Die gebeure het ook ’n emosionele impak op haar gesin. “My seun het gisteraand nagmerries gehad van al die geluide.”
Die Wentzel gesin woon hier.
Toe Dubai se lughawe na bewering geteiken is, het noodwaarskuwings op hul selfone afgegaan.
“Ons is gemaan om weg te bly van vensters en te wag vir verdere instruksies van die regering. Hulle sê jy moet ’n sak reg hê ingeval jy moet ontruim.”
Volgens haar mag niemand tans buite op straat wees nie. “Al ons kosaflewerings is gestop. Jy mag net ry vir noodsaaklike aankope.”
Haar broer, Martin Coetser (27) – ook van Mosselbaai – het eergisteraand in die land geland.
Hy is betrokke by die klankbediening en musiekbediening by die NG Kerk Mosselbaai. “Hy het veilig geland, maar sit nou hier saam met ons,” sê sy.
Simone sê hoewel hulle dankbaar is dat hulle tot dusver ongedeerd is, bly die onsekerheid uiters ontstellend.
“Jy hoor die geluide en jy weet nie wat volgende gaan gebeur nie. Dit laat jou besef hoe vinnig dinge kan verander.”
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’