So het ’n groep van 50 mense – net voor die afskop tussen Samoa en die Springbokke Saterdag laatmiddag – gefluister toe die nr. 9-Springbok se helper hom by die kuierarea instoot.
Toe het die groep soos een man opgestaan en begin hande klap. Trane het in Joost van der Westhuizen se oë geblink toe sy rolstoel langs dié van Nokkie Northman staangemaak is.
Van der Westhuizen het iets vir Nokkie probeer sê. Dierlike geluide het uit sy mond gekom, maar Nokkie het verstaan, want hy is ook verlede jaar September met motorneuron-siekte gediagnoseer.
“Dit is die eerste en laaste keer dat Joost saam met mense na die wêreldbeker-reeks gaan kyk,” het Clair Caye-Grobler, die bemarkingsbestuurder van die J9-Foundation gesê. “Hy is baie moeg. Sy siekte begin hom al hoe meer aftakel. Hy kyk maar tuis na die wedstryde.”
Dié spesiale geleentheid is aangebied by Gretha Wiid se La Wiida Lodge, ’n klipgooi van Hartbeespoort af. Sy is aanbieder van die Worthy Women-saamtrek.