Gallery
MOTORNUUS - Wat 'n voorreg en eer was dit vir my om verlede Sondagoggend saam met my grootste motorsportheld, Sarel van der Merwe, in sy trofeekamer in sy huis in die Paarl oor 'n koppie koffie te kuier.
Toe ek daai trofeekamer binnestap het my mond in verwondering oopgehang - nog nooit het ek so baie bekers, toekennings en ander trofeë saam gesien nie.
Gou het Sarel my laat tuis voel en sy vrou, Danielle, het koffie gebring. Ek kon steeds nie glo die Suid-Afrikaanse motorsportlegende sit langs my terwyl ek hom peper met vrae nie.
Sarel is nou 53 jaar aktief in motorsport. Dit het alles in 1967 begin toe hy met 'n DKW aan wedrenne begin deelneem het. Tussen 1975 en 1988 wen hy die Suid-Afrikaanse-tydrenkampioenskappe 'n rekord 11 keer - sy grootste sukses in daardie jare was agter die stuur van die bekende geel Southern Suns Ford Escort, maar in die 80's het hy ook groot naam gemaak met verskeie magtige Audi Quattro's.
Na baie jare het hy weer sy beroemde geel Ford Escort opgespoor, en hom tot in die fynste detail gerestoureer. Hy gaan die Ford net vir uitstallings gebruik en belowe om dit George toe te bring vir die 2021 Oumotorskou.
Tydens sy roemryke tydrenloopbaan het hy ook internasionaal begin deelneem. In 1981 wen Sarel die Reno-tydren in Amerika met sy Suid-Afrikaans voorbereide Ford Escort. 1984 het hy en sy gereelde navigator, Franz Boshoff, met 'n geleende Audi Quattro aan die Portugese-tydren gaan deelneem. Daar het Sarel met die oefenslag die Audi gerol en tydens die ren was hy weer in 'n ongeluk betrokke en moes onttrek.
Sarel van der Merwe as jong man by sy Datsun 160U SSS. Foto Facebook
In Suid-Afrika het Sarel 73 oorwinnings in ons plaaslike tydrenreeks in sy loopbaan behaal. Sy heel eerste nasionale tydrenoorwinning was die 1974 Duckhamstydren in die Kaap waar hy die opposisie van die baan gevee het in sy standaard Datsun 1600 SSS.
Sarel was in sy loopbaan aktief in Alfa Romeo, Datsun, Toyota, Ford, Volkswagen, Audi en Chevair. Sy grootste welslae was egter met Ford en Audi.
Hy het ook oorsee sy hande aan sportmotorwedrenne geslaan. In Amerika het hy met 'n Corvette GTP aan die IMSA-wedrenreeks deelgeneem. In 1984 het hy kragte gesnoer met Graham Duxbury en Tony Martin in 'n March 83G Porsche en as 'n Suid-Afrikaanse span die Daytona 24 uur uithouren algeheel gewen. Hy het ook aan sewe Le Mans 24 uur wedrenne in Frankryk deelgeneem, waar sy beste posisie op debuut 3de was.
Sarel het selfs twee Formule 1 toetse gedoen, maar met beide probeerslae was hy te lank om in die motor te pas. Jammerte, ons kon nog 'n Jody Scheckter gehad het!
Die mure van Sarel se trofeekamer vertel sy hele motorsportverhaal van 53 jaar. Onder regs is die medaljes van verskeie staatspresidente vir sy motorsportsuksesse.
Op sy kruin het hy 43 naweke in 'n jaar wedrenne of tydrenne gejaag. Nou, op die rype ouderdom van 73, neem hy twee keer 'n jaar deel en is steeds aktief met die Ford Galaxi in historiese wedrenne en ry die Ginetta G50 sportmotor in uithouwedrenne.
'n Interessante feit is dat die Ruperts se Franschhoek-motormuseum weggesteek tussen die wingerde 'n renbaan het wat net vir privaat doeleindes gebruik word. Die baan is deur ons eie Super Van, soos Sarel op bekend staan, ontwerp.
Hy is al vir jare besig met die Spirit of Africa-uitdaagreeks in die Kalahari waar deelnemers se 4x4 vernuf met Amarok-bakkies getoets word.
Sarel het in 1994 die SA Saloon Car-kampioenskappe gewen, die SA Modified Saloon Car-kampioenskappe in 1994 en 2001, en in 1996 wen Sarel die Internasionale Castrol-tydren in Swaziland.
Sarel van der Merwe (regs) en sy grootste bewonderaar Francois Germishuys in Sarel se trofeekamer in die Paarl.
In 1976 verwerf Sarel sy Springbok-kleure, en in 1997 sy Protea-kleure vir motorsport in Suid-Afrika.
Die tydjie saam met Sarel was net te kort. Ek het nog soveel vrae gehad, maar neem afskeid met een vraag wat hy nie regtig kon antwoord nie. "Hoeveel het dit gekos om al die trofeë te wen?" Hy het so een of twee angsaanjaende syfers genoem en toe slaan my ore toe.
Sarel van der Merwe, superheld van Suid-Afrikaanse motorsport, ek noem jou saam met Jody Scheckter en Kork Ballington. SA se grotes in motorsport. Wat 'n legende.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Klein Karoo, Hessequa nuus'