MOSSELBAAI NUUS - Die jeuggroep van die strandings-netwerkgroep, Stranded Marine Animal Rescue Team (S.M.A.R.T.) het op eie inisiatief 'n skoonmaakoperasie by die Hartenbosriviermond aangepak. Die geleentheid het op Saterdag, 28 April plaasgevind.
Hoewel Mosselbaai se strande relatief skoon is, is daar nietemin sewe sakke met van die volgende items in opgetel en dit net in die area om die riviermonding: vere, dooie voëls, dooie visse, bottelproppe, strooitjies, suiglekkerstokkies, gholfballe, 'n braaiborsel, gloeilamp, 'n inspuiting, pleisters, oorstokkies, sigaretstompies, baie vislyn en toue, plastieklepels en vurke, nurdles en mikroplastiek.
Dit is eers as mens mooi loop en kyk dat jy van die items raaksien, almal soek plastieksakke en -bottels, wat hoofsaaklik deur die entrepeneurs wat plaaslike strande skoonmaak, opgetel word. Dis egter die kleiner nurdles en ander voorwerpe wat soveel skade aan mens en dier kan veroorsaak.
Die groep leerders wat hulleself die Mini Smarties noem, het besluit om gereeld hierdie belangrike taak te doen.
Die S.M.A.R.T.-span wat Saterdagmiddag in 'n kort rukkie sewe sakke vullis opgetel het.
Vislyn, toue en plastiekprodukte is alles items wat ons seelewe kan skade doen. Hengelaars word weer eens daarop gewys dat daar oral op plaaslike strande houers aangebring is om afvalvislyn in te plaas. Foto: Tersia Marais
Strandskoonmaakprojekte word ongelukkig in die algemeen nie baie goed in Mosselbaai ondersteun nie en dit is dalk net die motivering wat nodig is om ander groepe en skole ook betrokke te kry.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'